OUDTSHOORN NUUS - Allen Paulse, munisipale bestuurder van Oudtshoorn, het vanoggend met onmiddelike effek uit sy pos bedank.
Hy het ‘n kort bedankingsbrief aan die uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson, gestuur waarin hy bloot sê dat hy met onmiddelike effek bedank.
Macpherson het vanoggend bevestig dat hy die bedanking ontvang het en dat dit onmiddelik van krag is.
In ‘n telefoniese gesprek met Paulse het hy gesê die samestelling van ‘n dissiplinêre paneel wat hom moet verhoor is die hoofrede vir sy bedanking.
Die raad is besig met die proses om kwessies wat in die Webber Wentzel verslag ten opsigte van Paulse genoem is te ondersoek. Hy is tydelik uit diens gestel terwyl die proses aan die gang is. Volgens Paulse het hy inligting bekom dat die koalisie-vennote van die DA ‘n sleutelrol in die samestelling van die paneel gehad het.
“Ek het ‘n konflikverhouding met die koalisie-vennote en ek is oortuig dat my verhoor nie regverdig en objektief sal wees as hulle besluit oor die samestelling van die paneel nie. Ek moes dus besluit of ek kans sien vir ‘n verhoor wat volgens my inligting eensydig gaan wees, of om te bedank.” Hy het nie uitgebrei oor die inligting wat hy ontvang het nie.
Die Webber Wentzel-verslag is ook deel van ‘n ondersoek wat deur die valke gedoen word, maar Paulse sê dat hy daardie ondersoek vertrou en reeds op verskeie kwessies geantwoord het.
“Ek onderwerp my aan die ondersoek van die Valke, want ek het vertroue dat daardie proses die korrekte prosedures volg,” het Paulse Dinsdagoggend gesê.
Die burgemeester is genader vir kommentaar, maar hy het gesê dat hulle op regsadvies wag voordat daar kommentaar gelewer kan word.
Verwante artikels:
- Dissiplinêre proses begin
- Waarnemende munisipale bestuurder aangewys
- Afriforum vra oor grond en verslag
- Da's nie antwoorde
- Eenparig of nie eenparig nie?
- Besluit oor munisipale bestuurder nie eenparig nie
- Munisipale bestuurder op verpligte verlof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'