OUDTSHOORN NUUS - Sowat 40 belangstellendes het verlede Vrydag 'n gespreksessie oor nuwe ontwikkeling in Oudtshoorn en die Webber-Wentzel-verslag bygewoon. Die sessie is deur AfriForum se Oudtshoorn-tak gereël.
Shehaam Simms, waarnemende direkteur van menslike nedersettings, het uitgebrei oor beplande ontwikkeling van nuwe woongebiede op Oudtshoorn. Sy het verduidelik waarom sy nie lukraak te werk gaan met die toekenning van huise nie.
"Daar is 'n waglys waar sommige mense reeds sedert 1967 vir huise wag. Behuising moet so toegeken word, dat daardie mense voorkeur kry."
Sy het ook verwys na die negatiewe reaksie rondom die ontwikkeling van Spekkop op 'n terrein links van die De Rust-pad. Sy het daarop gewys dat die deel ten volle ontwikkel sal word met 'n bufferstrook tussen die pad en die woonbuurt en dat daar ook planne is vir winkels en 'n skool.
"Mense wat soos dié in die geval van Hopeville en ander plekke wat onlangs beset is, net eenvoudig besluit om iewers huise op te slaan, bemoeilik die proses."
Dr. Jan Vlok, bekende plantkundige, en sy vrou dr. Anne Lise Schutte-Vlok, het hulle kommer uitgespreek oor drie terreine wat ten alle koste bewaar moet word. 'n Gedeelte van Spekkop is een van die areas.
Webber-Wentzel
DA-raadslid, Chris McPherson, het vrae oor die Webber-Wentzel-verslag beantwoord. Die verslag is opgestel aan die hand van klagtes wat deur die voormalige burgemeester, Colan Sylvester, en 'n aantal raadslede teen die munisipale bestuurder, Allen Paulse, ingedien is.
McPherson het verduidelik dat die verslag eensydig slegs op grond van getuienis van die klaers opgestel is, en dat die munisipale bestuurder en ander partye wat daarin genoem word, nog geleentheid gegun moet word om daarop te reageer.
Die media het 'n versoek aan McPherson gerig om die raad te vra om inligting ten opsigte van die verslag amptelik aan die media beskikbaar te tel aangesien slegs stukke daarvan op sosiale media beland en dit moeilik is om 'n objektiewe beeld vir die publiek te gee.
Dr. Jan Vlok
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'