OUDTSHOORN NUUS - Die dissiplinêre proses waarby die munisipale bestuurder, Allen Paulse, betrokke is, het begin.
Dit is in reaksie op die Weber-Wentzel-verslag wat vroeër vanjaar uitgereik is en waarin die munisipale bestuurder genoem word.
Paulse se dienste is reeds etlike maande gelede tydelik opgeskort en hy is geleentheid gegun om redes aan te voer dat daar nie dissiplinêr teen hom opgetree moet word nie.
Volgens inligting wat ontvang is, het die raad sy redes ontvang, maar besluit om met 'n dissiplinêre proses voort te gaan. Die besluit is in komitee geneem en die inhoud daarvan is nie bekend nie.
Daar is wel aan Oudtshoorn Courant gesê dat die wetlike voorskrifte tans gevolg word. 'n Dissiplinêre komitee onder leiding van 'n voorsittende beampte sal nou aangestel word om die proses deur te voer. Volgens wetgewing moet die dissiplinêre proses binne drie maande afgehandel word.
Paulse se dienste is steeds tydelik opgeskort en die munisipaliteit se hoof van finansies, Gerald de Jager, neem steeds waar as munisipale bestuurder. Hy is tydens 'n spesiale raadsvergadering aan die begin van Augustus as waarnemende munisipale bestuurder aangestel nadat Reginald Smit vir ses maande waargeneem het. 'n Navraag is Maandag aan die munisipaliteit gestuur, maar teen Woensdag is 'n amptelike antwoord nog nie ontvang nie.
Verwante artikels:
- Waarnemende munisipale bestuurder aangewys
- Afriforum vra oor grond en verslag
- Da's nie antwoorde
- Eenparig of nie eenparig nie?
- Besluit oor munisipale bestuurder nie eenparig nie
- Munisipale bestuurder op verpligte verlof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'