OUDTSHOORN NUUS - "Almal het regte, maar dit gaan gepaard met verantwoordelikheid en respek," dit was die boodskap van al die sprekers tydens 'n Menseregtedag-imbizo ter viering van Menseregtedag in Oudtshoorn Thusong-sentrum.
Die imbizo is deur die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling aangebied en sowat 200 inwoners het dit bygewoon.
Die geleentheidspreker, adv. Eugene Raphalane van die Suid-Afrikaanse menseregte kommissie (SAHRC), het in sy toespraak gesê elke dag behoort Menseregtedag te wees, en oor verskeie belangrike aspekte gepraat.
Oor Sassa-toelae het Raphalane gesê alle mans en vroue ouer as 60 jaar is daarop geregtig, behalwe werknemers van die regering. "So is almal ook geregtig op behuising, maar dit hang af van die hulpbronne, en dat mense daarvoor aansoek moet doen, sorg dat julle op 'n waglys kom," het hy gesê.
Oor die reg tot onderwys het hy gesê dat dit almal se reg is, maar dit verstom hom om so baie kinders gedurende skooltyd op straat te sien.
"Waar is die ouers van daardie kinders? Dit is mos hulle verantwoordelikheid om toe te sien dat hul kinders op skool is. Onderwys is verpligtend en baie ouers vergeet dit. Dit is die sleutel om die deur van armoede oop te sluit. Ons skole en universiteite is oop vir almal en die jeug moet gaan studeer om verandering in hul gemeenskappe te bring en die ketting van armoede te breek."
Oor polisiedienste het hy die gemeenskap gevra om by 'n hoër gesag te gaan kla indien hulle nie tevrede is met hul optrede nie. "Die manier hoe daar met amptenare en beamptes gepraat word is egter baie belangrik, om onbeskof te wees en te skel, is onaanvaarbaar."
Adv. Michelle Weyers, 'n senior streekhofaanklaer in Oudtshoorn, het verduidelik dat aanklaers die prokureurs van die slagoffers is.
"Aanklaers is daar om slagoffers te verteenwoordig en hul regte te beskerm. Maar dit is skokkend dat vroue sake maak en dan terugtrek en van ouers wie se kinders nie op skool is nie te hoor dat die kind nie wil skoolgaan nie. Dit is 'n verant-woordelikheid wat die ouer nie nakom nie."
Eddy Myners van die Suid-Kaap-korrektiewedienste, het aan die gehoor verduidelik dat die howe, en nie korrektiewe dienste, oortreders straf. "Dit is ons verantwoordelikheid om toe te sien dat die oortreders die beste dienste kry. Die gevange het steeds sy regte en moet menswaardig behandel word, maar ons moet toesien dat hulle kos reg is en hulle goed slaap," het Myners gesê.
Hy het beklemtoon dat gemeenskappe die reg het om hul familie in tronke te besoek en toe te sien dat hulle goed behandel word.
Die superintendent van die Oudtshoorn-hospitaal, dr. Charlton Dreyer, het in sy toespraak gesê dat almal die reg het tot goeie gesondheidsdienste.
"Dit is 'n basiese reg maar daar moet wedersydse respek wees tussen die persoon wat hulp nodig het en die persoon wat dit verleen," het Dreyer gesê. Hy het ook mense aangemoedig om hul skaamheid oor sekere siektes te oorkom en andere te behandel soos jy self behandel wil word.
Genl.maj. Lulamile Jojo van die SAPD se provinsiale kantoor in Kaapstad, het in sy toespraak sy teleurstelling uitgespreek oor mense wat tydens die sing van die volkslied geen respek daarvoor getoon het nie.
"Dit is laakbaar en onaanvaarbaar en daar is lande waar jy opgehang word maar nie by ons nie omdat ons menseregte het." Hy het sy kommer uitgespreek oor mense wat weet wie die misdadigers is maar stilbly daaroor.
"Staatsaanklaers kan nie mense aankla as daar nie getuies is nie. Dit is ons plig om die regering te help en die stilte te verbreek," het hy gesê.
'n Regshulpprokureur, Wynand Malan, het verduidelik dat die Regshulpraad daar is om die beskuldigde se regte te beskerm en die dienste gratis is vir almal. Hy het beklemtoon dat geen kind sonder regsverteenwoordiging in 'n hof mag verskyn nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’