OUDTSHOORN NUUS - Marnus Botha, oorspronklik van Oudtshoorn, het die afgelope naweek as eerste naaswenner by die prestigeryke Mnr. Global Suid-Afrika-kompetisie geëindig.
Marnus, 'n talentvolle en passievolle jong pa van Somerset-Wes, was ook verlede jaar 'n finalis in Mnr. Suid-Afrika 2024. "Dit was niks minder as lewensveranderend nie," vertel Botha.
"Ek het nie net op 'n verhoog gaan staan nie, ek het my hart daar uitgesit. Die broederskap tussen die deelnemers en die intensiteit van die voorbereiding het my in elke opsig laat groei."
Die gala-aand was die hoogtepunt van maande se harde werk, toewyding en opoffering. Marnus se naam is nie net as eerste naaswenner aangekondig nie, maar hy is ook met die Publieke Stem-toekenning bekroon vir die meeste aanlyn stemme, én het ook die Liefdadigheidstoekenning ontvang vir sy rol in fondswerwing vir die Somerset West Night Shelter.
Marnus sê die voorbereiding het veel verder gestrek as fisieke voorkoms. Sy oefenroetine en eetplan is professioneel saamgestel, maar hy het ook emosioneel in homself belê.
"Ek wou die beste weergawe van myself wees. My oefenprogram was gefokus op fisiese krag, uithouvermoë en estetika. Ek het noukeurig aandag gegee aan my dieet, herstel tydperke en algehele welstand om te verseker dat ek op die verhoog stap en selfversekerd en sterk voel. Ek het ook gewerk aan my persoonlike versorging, stilering en postuur, alles met behulp van professionele mense. Emosioneel het ek innerlik aan myself gewerk. Ek het besin oor die doel waarom ek ingeskryf het, die waardes en die boodskap wat ek na die platform wou bring. Ek het my doelwitte gevisualiseer."
Een van die grootste uitdagings vir hom was om die veeleisende kompetisie met 'n voltydse werk en pa-wees te balanseer.
"Daar was tye wat ek uitgeput gevoel het, maar dit het my geleer om doelgerig en vasberade te bly."
'n Spesiale oomblik vir hom was toe Anton Siebert, die vorige titelhouer, die finaliste in die kleedkamer toegespreek het.
Sedert die kompetisie het talle nuwe deure vir Marnus oopgegaan, van handelsmerk-vennootskappe en mediageleenthede, tot beoordelaarsrolle en verhoogde betrokkenheid by liefdadigheid.
"My werk by die Somerset West Night Shelter lê my na aan die hart. Ek wil nou nóg meer in daardie ruimte doen."
Met nuwe inspirasie en momentum beoog hy om verder betrokke te raak by mentorprogramme vir jong mans, en voort te bou aan sy gemeenskapsbetrokkenheid en loopbaan.
"My reis eindig nie op die verhoog nie, dit is die begin van iets groter. Ek wil 'n stem wees vir hulle wat nie gehoor word nie, en 'n voorbeeld wees vir my seun én vir ander jong Suid-Afrikaners."
Lees vorige berigte hier:
- Marnus finalis in Mnr Global
- Botha deel van top-5
- Mnr. Suid-Afrika vanaand uitgesaai
- Marnus ontmoet Mej. SA
- Marnus onder top-16 vir Mnr. SA
- Stem vir oud-Gimmie Marnus Botha!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’