Update
OUDTSHOORN NUUS - Marnus Botha, oudinwoner van Oudtshoorn, het die afgelope naweek aan Mnr. Suid-Afrika deel geneem en onder die top-5 geeindig.
Hy beskryf sy ervaring as “onvergeetlik.”
"Dit was beslis ‘n eens in ‘n leeftyd gebeurtenis wat ek vir altyd sal onthou. Ek het so baie van myself geleer, nuwe vaardighede aangeleer ten opsigte van die media- en vermaaklikheidsbedryf en ‘n nuwe vlak van selfvertroue gekry."
Hy sê die persoon wat in Maart ingeskryf het vir Mnr Suid-Afrika en die persoon wat Saterdagaand op die verhoog aangewys is as deel van die Top-5 is beslis nie dieselfde mens nie.
“Die feit dat soveel mense in my geglo het, het ‘n groot aandeel gehad in die resultate van die aand,” sê hy met dankbaarheid.
"Al wat ek wou doen is om Oudtshoorn se naam hoog te hou en ek glo ek het daarin geslaag. Baie dankie aan elke Oudtshoorniet se stem, boodskap, oproep, video en kommentaar op my sosiale media platforms. Dit is ‘n groot testament van hoe ons klein dorpie mense met groot drome net die beste vir mekaar wil hê."
Botha sê hy sal vir ewig dankbaar wees vir JP Robberts (uitvoerende direkteur van Mnr. Suid-Afrika) vir die ongelooflike ervaring wat hy gehad het.
Hy het ook Marcel Roux, die wenner van Mnr Suid-Afrika 2024 baie geluk gewens.
Hy en Roux het ‘n spesiale band gevorm as mede-deelnemers en jong vaders. “Ons het gereeld gesels oor ouerskap en raad uitgeruil. Hy is ‘n baie spesiale mens en ‘n goeie vriend,” sê Botha.
Hoewel sy reis in die kompetisie tot ‘n einde gekom het, sien Botha dit net as die begin. “My reis is nog lank nie verby nie, en wat van hier af gebeur gaan nog net groter wees!”
Lees die vorige berigte hier:
- Mnr. Suid-Afrika vanaand uitgesaai
- Marnus ontmoet Mej. SA
- Marnus onder top-16 vir Mnr. SA
- Stem vir oud-Gimmie Marnus Botha!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’