OUDTSHOORN NUUS - Marnus Botha, 'n oudinwoner van Oudtshoorn, en een van die top-10 finaliste vir Mnr. Suid-Afrika het ook die afgelope naweek Oudtshoorn besoek.
Een van die hoogte punte was toe hy Mia le Roux, Mej. Suid-Afrika, Vrydagaand tydens 'n funksie by die Kango-grotte ontmoet het.
Gedurende sy besoek het Botha ook by die High Gate Volstruisplaas gekuier, waar hy meer geleer het oor die unieke volstruisbedryf van die streek en ook Cango Wildlife Ranch besoek.
Marnus Botha en Mia le Roux. Foto: Liezl van Niekerk
Hy het ook die finaliste vir Mnr. en Mej. Klein-Karoo ontmoet, wat sy ervaring nog meer spesiaal gemaak het. Hier kon die deelnemers vir hom vra vrae oor sy pad na Mnr. Suid-Afrika en het hy hulle bietjie raad en motivering gegee.
Botha het in 2011 aan die Langenhoven Gimnasium gematrikuleer en woon tans in Somerset-Wes saam met sy vrou, Marguerite. Sy is tans swanger met hul eerste kind. Hy werk vir die Stad Kaapstad in die afdeling vir strategiese beplanning.
As deel van sy reis het hy by iefdadigheidsorganisasies aangesluit en probeer hy soveel as moontlik in die gemeenskap doen om terug te gee en ander te inspireer. Die kroning van Mnr. Suid-Afrika vind 9 November plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’