OUDTSHOORN NUUS - Marnus Botha, oudinwoner van Oudtshoorn en ’n top 5-finalis in Mnr. Suid-Afrika 2024, het homself weer ingeskryf vir ’n groot internasionale modelkompetisie. Hy is vroeër vandeesmaand as ’n semi-finalis vir Mnr. Global Suid-Afrika gekies, en op 1 April word die finaliste aangekondig.
“Daar het soveel deure vir my oopgegaan in die media- en vermaaklikheidsbedryf na verlede se kompetisie dat ek nie anders kon as om elke geleentheid met ope arms te verwelkom nie. Ek is einde 2024 geteken deur ’n agentskap, 33 & Me Talent Agency in Kaapstad waar ek al vir verskeie oudisies vir modelwerk, films en advertensies gegaan het.”
Volgens hom is Mnr. Global ‘n wêreldwye skoonheidskompetisie vir mans wat sedert 2014 aangebied word. Dit is nie net ’n modelkompetisie nie, maar soek ook inspirerende mans wat as rolmodelle en leiers in hul gemeenskappe kan dien.
Die wenner verteenwoordig Suid-Afrika by die internasionale Mnr. Global in Thailand van 26 September tot 5 Oktober 2025 en ontvang ’n pryspakket ter waarde van R100 000.
Botha put inspirasie uit Anton Siebert van Mosselbaai, wat Mnr. Global Suid-Afrika in 2024 gewen het en die Top 20 by die internasionale kompetisie gehaal het. “Ek sal ook graag in sy voetstappe wil volg en die groter Tuinroete-streek trots maak!”
Die kompetisieproses
Na sy inskrywing vroeër vanjaar is Botha in Maart as ’n semi-finalis gekies. Semi-finaliste voltooi verskeie uitdagings, insluitend om publieke stemme te werf, by ’n liefdadigheidsorganisasie betrokke te raak en ’n debutantefooi in te samel. Die eindronde vind op 26 Julie in Gauteng plaas en sluit ’n loopplankgedeelte in swemdrag en formele drag in, asook ’n vrae-afdeling oor aktuele sake.
Publieke stemme en liefdadigheid
Botha ondersteun die Somerset West Night Shelter as sy gekose liefdadigheidsorganisasie. Die nagskuiling bied behuising en ondersteuning aan hawelose volwassenes en gesinne en bied programme vir rehabilitasie, berading en vaardigheidsopleiding. Botha het reeds aan ’n Dagsorg Tuinboudag deelgeneem en ’n klere-insamelingsprojek saam met Thrift Street Online van stapel gestuur.
Stem vir hom
Die publiek kan vir hom stem deur “WIN MGSA12” te SMS na 47439. SMS'e kos R3 en gratis SMS’e is nie van toepassing nie. Jy kan ook soveel keer stem soos wat jy wil.
Lees die vorige berigte hier:
- Botha deel van top-5
- Mnr. Suid-Afrika vanaand uitgesaai
- Marnus ontmoet Mej. SA
- Marnus onder top-16 vir Mnr. SA
- Stem vir oud-Gimmie Marnus Botha!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’