OUDTSHOORN NUUS - Marnus Botha, 'n oudinwoner van Oudtshoorn, is tans onder die top-16 uit 57 deelnemers aan Mnr. Suid-Afrika 2024.
"Ek mik vir die top-10 wat in Augustus aangekondig gaan word. Slegs die top-10 word gekies om deel te neem aan die eindronde wat regstreeks uitgesaai word," vertel hy.
Botha het in 2011 aan Langenhoven Gimnasium gematrikuleer en woon nou in Somerset-Wes saam met sy vrou, Marguirite, waar hy vir die Stad Kaapstad in die strategiese beplanning departement werk.
Sy Mnr. Suid-Afrika-reis het reeds in April vanjaar begin en was sover vir hom 'n unieke leerskool.
Botha vertel dat hy by 'n liefdadigheidsorganisasies aangesluit het as deel van sy Mnr. Suid-Afrika-uitdagings. Hoewel die publiek se stemme die meeste punte tel, moet deelnemers aan uitdagings deelneem wat ook bepunt word.
"Ek het betrokke geraak by die span van Love Your Nuts. Dit is 'n geregistreerde nie-winsgewende testikulêre kanker-bewusmakingsorganisasie in Suid-Afrika. Die doel van Love Your Nuts is om bewusmaking te skep oor testikulêre kanker deur gemeenskappe op te voed oor dié siekte."
Volgens hom fokus die organisasie op hardloop- en fietsrygeleenthede waar jong mans deelneem in Love Your Nuts-kleredrag.
"Ek het op 22 Junie deelgeneem aan die Bellville-parkrun waar die kenmerkende Love Your Nuts-speedo veral aandag op sosiale media getrek het. Ek beoog om die jaar aan nog geleenthede deel te neem wat moontlik 'n staptog teen Tafelberg op en 'n swembyeenkoms insluit. As ek iemand se lewe kan red deur net een plasing op sosiale media, hoekom nie!"
Van die ander uitdagings wat hy gehad het was om 'n minimum van vyf borge of handelsmerke te kry wat deelnemers deur die jaar gaan ondersteun.
"Ek was gelukkig om vyf fantastiese ondernemings te kry om my te ondersteun."
Botha moet ook 19 kaartjies na die jaarlikse Mnr. Suid-Afrika Vrouedag-vieringe, wat op 17 Augustus gehou word, by Vodacom World in Johannesburg verkoop.
Dit is tydens hierdié geleentheid wat die top-10 vir Mnr. Suid-Afrika aangekondig gaan word.
Help Botha om die top-10 te behaal
Stem vir hom op www.imperialvote.com of by die QR kode:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’