LADISMITH NUUS - "'n Stuk yster is 'n gevaarlike wapen."
So het streeklanddros Retha Pretorius Vrydag in haar uitspraak in die saak teen 'n man van Ladismith gesê wat 'n 73-jarige man met 'n stuk yster geslaan en sy dood veroorsaak het. Denrico Jaftha (19) het tereggestaan op aanklag van moord, maar is aan strafbare manslag skuldig bevind.
Jaftha het erken dat hy die aand van 19 Julie 2016 die 73-jarige Jacobus Parsons met 'n stuk yster geslaan het, maar nie bedoel het om hom dood te maak nie.
Volgens hom het hulle saam in 'n buitekamer gewoon. Hy het die betrokke aand laat tuis gekom en aan die deur geklop. Parsons wou glo nie die deur vir hom oopmaak nie en van binne geskree dat hy op 'n ander plek moet gaan slaap. Hy het kwaad geraak, die deur oopgeskop en Parsons met die stuk yster geslaan.
Hy het in sy pleitverduideliking gesê dat hy baie jammer is.
Streeklanddros Retha Pretorius het in 'n lang uitspraak gesê die hof kon nie bevind dat Jaftha die opset gehad het om Parsons dood te maak nie.
Volgens haar was die beserings nie só lewensgevaarlik nie en as dit nie was dat die ambulans eers twee dae nadat hulle ontbied is, opgedaag het nie, Parsons se lewe moontlik gered kon word.
Die polisie, wat ook eers die dag na die voorval opgedaag het, het volgens getuienis voor die hof ook glo niks gedoen nie.
Sy het egter bevind dat Jaftha moes voorsien het dat hy die oorledene ernstig kon beseer. Vonnisverrigtinge is op versoek van Jaftha se regshulpprokureur, Eugene Roos, vir 'n korrektiewe verslag, uitgestel. Hyron Goulding was die aanklaer.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'