OUDTSHOORN NUUS - Verlede Saterdag, 18 Oktober, is die uitdagende Dust4Glory-hindernis-uitdaging vir die sesde keer by Wilgewandel-vakansieplaas naby die Kango-grotte aangebied. Die mees veeleisende roete, die Pro-uitdaging, strek oor 10 km met 12 hindernisse wat selfs die fiksstes uitdaag en deelnemers moes 19 jaar of ouer wees om deel te neem.
Die roete vir die medium-uitdaging strek oor 5 km met 10 hindernisse en atlete van 14 jaar en ouer kon daaraan deelneem.
Deelnemers kon individueel of in spanverband deelneem. Daar was ook kort roetes met makliker hindernisse wat oor 1 km tot 3 km strek vir kinders onder 14 wat net vir die pret deelneem.
Meer as 400 atlete het vir vanjaar se Dust4Glory ingeskryf en deur moddergate geploeter, teen steil hellings opgeklouter, aan toue gehang, van hoogtes afgespring en swaar voorwerpe rondgeskuif om uiteindelik die eindpunt te haal. Die jaarlikse Dust4Glory word deur Pienaar Muller van Wilgewandel en eienaar van Dust4Glory in samewerking met Juan Botes van Chaingang Events gereël.
Na afloop van Saterdag se wedlope het hulle gesê hulle is trots daarop dat dié byeenkoms, die enigste van sy soort in die Tuinroete en Klein-Karoo, jaarliks groei. Dit is ook verblydend om te sien hoe deelnemers terugkom met meer vasberadenheid en sterker vertoon. Die volgende Dust4Glory word vir 17 Oktober 2026 beplan.
![]() | ![]() | ![]() |
Die eerste drie plekke in die onderskeie afdelings is as volg:
- Medium-uitdaging oor 5 km
Mans: Matthew Olivier, Ethan Voight en Jacques Smith
Vroue: Chantell van der Nest, Stephanie Griffiths en Sjanrie Hendrikz
- Pro-uitdaging oor 10 km
Mans: Tom Liebenberg, Daniel Hughes en Juan-Dre du Plooy
Vroue: Angi Connoway, Nathaline Smith en Chané Spangenberg
Sussies wen
Drie susters, wat leerders by Laerskool Wesbank is, het verlede Saterdag elk hulle ouderdomsafdeling by die Dust4Glory-uitdaging gewen. Mari Lourens was eerste in die mini-afdeling vir kinders tussen drie en nege jaar oud. Helena was eerste oor die wenstreep in die kategorie vir leerders van gr. 4 en 5 en Iza Lourens het koning gekraai onder die atlete van gr. 6 en 7. Pienaar Muller van Dust4Glory sê hierdie prestasies van die Lourens-sibbe bewys net weer dat deursettingsvermoë, liefde vir sport en familiegees 'n wenresep is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’