LADISMITH NUUS - Die gemeenskap van Ladismith het Saterdag 20 September in groot getalle bymekaargekom om afskeid te neem van Eleanor Opperman en Julian van der Ross, wat op 9 September tragies in 'n brand gesterf het.
Die begrafnisdiens, wat in 'n stampvol saal by Ladismith Sekondêr gehou is, is gelei deur pastoor Hendrik Rademeyer, emeritus-leraar van die Pinkster Protestante Kerk.
In sy boodskap het hy die families bemoedig met die woorde: "Here, gee U dan nie om nie." Hy het erken dat vrae en pyn onvermydelik is, maar die troos uitgespreek dat lyding met tyd sagter word.
"Die families is beroof van dit wat kosbaar is, maar weet dat God genade skenk en dat Hy weer jul wonde sal genees," het Rademeyer gesê.
Die emosionele diens is bygewoon deur talle jongmense, vriende en kennisse van die oorledenes. Opperman laat 'n matriekdogter en 'n 11-jarige seun agter.
Die tragedie het die dorp diep geraak en die twee kiste wat voor in die saal gestaan het, het as stille getuies die erns van die verlies onderstreep.
Intussen staan die beskuldigde, die 28-jarige Samuel Jansen, tereg op twee aanklagte van moord en een van brandstigting. Hy sal weer op 2 Oktober in die Ladismith-distrikshof verskyn.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’