LADISMITH NUUS - ’n Verwoestende brand het in die vroeë oggendure van Sondag 7 September in die Nissanville informele nedersetting in Ladismith, uitgebreek. Twee mense het hul lewens verloor.
Volgens die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) se nooddienssentrum is die voorval om 04:34 aangemeld. Brandbestryders van die TDM, wat namens Kannaland-munisipaliteit die plaaslike brandbestrydingsfunksie verrig, het saam met beskermingsdienste op die toneel gereageer.
“Brandbestryders is onmiddellik ontplooi en het ’n woning aangetref wat reeds in vlamme gehul was,” het TDM-brandweerhoof, Deon Stoffels, bevestig.
Kannaland se beskermingsdienste was reeds besig om die brand met ’n ligte brandbestrydingsvoertuig te probeer blus toe die TDM-span opgedaag het. Die intense hitte het egter veroorsaak dat ’n voertuig en ’n aangrensende struktuur ook aan die brand geraak het. Die oorspronklike woning is in die brand vernietig.
Die polisie het intussen ’n dossier geopen om die presiese omstandighede van die brand vas te stel.
Stoffels het weer ’n beroep op gemeenskappe gedoen om waaksaam te wees: “Ons vra dat mense uiterste versigtigheid aan die dag lê wanneer kerse, paraffienstowe en gastoestelle gebruik word. Die uitermate droë toestande in die streek verhoog die risiko van brande aansienlik.”
Tuinroete-distriksmunisipaliteit se raad het sy innige meegevoel aan die families van die slagoffers betuig. “Ons gedagtes is by almal wat deur hierdie tragiese voorval geraak is,” het burgemeester, Andrew Stroebel, gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’