LADISMITH NUUS - 'n 28-jarige man van Ladismith is Dinsdagaand, 9 September, in hegtenis geneem in verband met die dood van twee mense wat Sondag 7 September in 'n opslaanwoning in Bellstraat, Ladismith, in 'n brand omgekom het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die ondersoek nog in 'n vroeë stadium. Die verdagte staan egter reeds tereg op aanklag van moord en brandstigting. Hy bly in polisie-aanhouding en sal na verwagting op Donderdag 11 September in die Ladismith-landdroshof verskyn.
Die brand het omstreeks 04:20 Sondag-oggend uitgebreek.
Julian van der Ross (24) was by sy vriendin, Eleanor Opperman, tuis toe die vlamme die woning verswelg het. Beide slagoffers is op die toneel dood. Ook die baba-veghond wat op die erf gebly het, is in die brand dood.
Al wat oor is van die struktuur waarin Eleanor Opperman en Julian van der Ross omgekom het. Foto: Deon Meyer
Volgens Simoney Opperman, wat saam met haar gesin in 'n Wendyhuis op dieselfde erf woon, was die gebeure "absoluut angswekkend". Sy vertel dat daar vier wonings op die erf is: Eleanor se hut, Simoney se Wendyhuis, en twee skakelhuise waarin haar ouers en Eleanor se ouers woon.
"Ek het Eleanor en Julian nog die Saterdagaand hoor gesels. Iewers Sondagoggend het ek begin rook ruik en my man gevra of hy iets in die kombuis aan vergeet het. Toe ek by die venster uitkyk, het ek die vlamme gesien. Ons het ons gesin wakker gemaak en gevlug," het sy vertel.
Haar man het probeer om Eleanor en Julian te red, maar die vlamme was reeds te intens.
"Ek het haar hoor skree: 'Mamma, help my!' Dit was haar laaste woorde. Ons het ook gesien dat die deur van buite ingehak was. Daar was eenvoudig geen manier om hulle te bereik nie."
Volgens haar het die vinnige optrede van polisielede, wat toevallig in die omgewing op patrollie was, asook 'n brandweerman wat naby woon, verhoed dat die ander huise ook afgebrand het. Die intense hitte het egter skade aan haar eie woning veroorsaak.
"Twee van my vertrekke is in die brand beskadig. Ons het hard gewerk vir wat ons het, en nou is daar eenvoudig nie geld om alles te vervang nie," het sy gesê.
Frikkie en Leonie van der Ross, wyle Julian van der Ross se ouers. Foto's: Deon Meyer
Julian van der Ross
Julian se ouers, Frikkie en Leonie van der Ross, sukkel om oor die voorval te praat. Julian se jonger boetie, Ralton (24), vertel dat hy en sy vriende Saterdagaand rustig saam gekuier het, maar dat hy 'n oproep ontvang het dat sy broer in 'n brand omgekom het. "Ek is dadelik huis toe en my ouers het dit bevestig. Dis die ergste nuus wat ek nog moes hoor," sê hy.
Leonie sê dat sy nog nie eens haar seun se liggaam gesien het nie.
"Ek het selfs Sondag nog sy bord kos geskep, met die hoop dat hy by die deur sou instap. Nie hy of Eleanor het verdien om so te sterf nie - en beslis nie op só 'n ondenkbare manier nie."
Ralton sê die laaste woorde wat sy broer aan hom gesê het, was: "Geniet jou naweek, maar met perke, hoor."
Brian en Racheline Adams, wyle Eleanor se ouers.
Eleanor Opperman
Brian, Eleanor se pa, sê Eleanor was sy lieflingkind.
"Sy laat my met soveel mooi herinneringe. Ek wil nie kwaad met kwaad vergeld nie, want sy het liefde vir almal rondom haar gehad. Sy laat 'n matriekdogter en 'n 11-jarige seuntjie agter. Dit is nie reg dat hulle ma so wreed van hulle af weggeneem is nie."
Hy sê hy het baie skuldgevoelens oor sy dogter se dood.
"Sy moes vreeslik om hulp geroep het. Ek kan nie dink dat ek nie wakker geword het toe my dogter roep nie."
Ook Racheline, Eleanor se ma, se woorde is min.
"Ek is steeds in skok. My kind was 'n vredeliewende mens wat nie so 'n wrede dood verdien het nie. Ek het baie vrae, maar glo geregtigheid sal geskied."
Eleanor laat ook twee broers en 'n suster agter.
- Eleanor en Julian se families kon nog nie die begrafnisse finaliseer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’