Update
OUDTSHOORN NUUS - Walter Hendricks se onlangse aanstelling as die Oudtshoorn-munisipaliteit se nuwe munisipale bestuurder het die wenkbroue laat lig.
Die einste Hendricks het in Augustus vanjaar as waarnemende munisipale bestuurder van die groter Oudtshoorn-munisipaliteit bedank.
Hendricks is sedert September 2021 vir drie maande in dié pos aangestel waarna sy kontrak deur die raad verleng is.
Sy aanstelling is op daardie stadium as omstrede beskou omdat hy toe kriminele klagtes vir tenderbedrog en korrupsie in die gesig gestaar het toe hy in diens van George-munisipaliteit was.
Hendricks is tans direkteur van korporatiewe dienste by Theewaterskloof-munisipaliteit en het in Augustus saam met vier ander amptenare in die George-streekhof op aanklagte van bedrog en korrupsie verskyn. Dit volg nadat die Valke se ernstige kommersiële ondersoekeenheid dié vyf beskuldigdes in September 2020 op aanklagte van korrupsie, bedrog en die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet tot die hof gedagvaar het. Daar word verwag dat die saak in Maart 2023 aangehoor sal word.
Hendricks het via 'n verklaring van die Oudtshoorn-munisipaliteit gesê dat hy uitsien daarna om die groter Oudtshoorn-gemeenskap te dien en oop, deursigte en eerlike bestuur te verseker.
"Ek sal die gemeenskap se insette verwelkom om die huidige en toekomstige uitdagings aan te spreek. Ek wil ook die raad bedank dat hulle my die geleentheid gegee het om deel van die groter Oudtshoorn te wees," het Hendricks gesê.
Zoe Tyatya (hoofsweep van die ANC in Oudtshoorn)
Raadslid Zoe Tyatya van die amptelike opposisie (ANC) het vandeesweek aan Oudtshoorn Courant gesê dat Hendricks se aanstelling 'n stap in die verkeerde rigting vir Oudtshoorn is.
"Ons sou graag 'n splinternuwe munisipale bestuurder sonder enige bagasie of verdenking wou gehad het. Die feit dat Hendricks onlangs bedank het vertel 'n verhaal op sy eie, want hy was deurgaans onder druk geplaas in die raadsaal as gevolg van sy hangende hofsaak. Hendricks is egter volgens demokratiese prosesse verkies en die opposisie met sy minderheidstem is ongelukkig uitgestem; so ons hande is afgekap."
Tyatya sê verder dat alhoewel die ANC in 2021 en 2022 (tot en met Julie) toe hulle aan bewind was ten gunste van Hendricks se kontrakverlenging was, hul koalisie as 'n kollektief nou meer ervare is en ook van beter weet om liefs van omstrede aanstellings (hoe goed die kandidaat ook al mag wees) weg te bly.
Verklaring van die burgemeesterskantoor
Volgens 'n verklaring van die burgemeesterskantoor is Hendricks se aanstelling gedoen na afloop van 'n keuringsproses wat reeds in Oktober vanjaar begin het nadat aansoeke vir die pos ontvang is. In dié verklaring is die proses om die nuwe munisipale bestuurder breedvoerig verduidelik:
"Die munisipale bestuurder-pos is na 'n raadsbesluit, nasionaal geadverteer waarna 'n veelparty keuringspaneel is uit die raad saamgestel is. Die paneel het ook 'n munisipale bestuurder van 'n ander dorp en 'n werwingspesialis bevat. Na die keerdatum vir aansoeke is 'n evaluasie van alle aansoeke deur die keuringspaneel gedoen en 'n lys is opgestel van kandidate wat vir die pos kwalifiseer. Die werwingspesialis het elke kandidaat se kwalifikasies en ervaring nagegaan en 'n volledige vetting-proses gedoen. Na afloop van hierdie proses is 'n kortlys deur die keuringspaneel opgestel. Intensiewe onderhoude is met elke kandidaat gevoer en 'n teoretiese eksamen moes ook afgelê word. Nadat die onderhoude en eksamens voltooi is, is elke kandidaat se somtotaal aan die keurpaneel voorgelê. Die keurpaneel moes toe konsensus bereik oor watter kandidaat die mees geskikte kandidaat is. Die keurpaneel se keuse is aan die volle raad voorgelê en Walter Hendricks is as munisipale bestuurder verkies. Hendricks het die aanstelling aanvaar en sal in Januarie 2023 die pos betrek," lui die verklaring.
Vorige artikels:
- Hendricks nuwe munisipale bestuurder
- PA-OGI- en Advieskantoor-raadslede aangekla
- Walter Hendricks bedank as MM
- Walter Hendricks se ontslag onwettig
- Hendricks se ontslag onwettig
- Donson en Hendricks uit
- Donson uitgestem as Onderburgemeester
- Gerald de Jager nuwe munisipale bestuurder
- Saamstaan verloor hofaansoek
- Staansaam verloor hofaansoek
- Louw beloof regstappe teen nuwe leierskap
- Allers nuwe speaker van Oudtshoorn
- Nyuka nuwe onderburgemeester van Oudtshoorn
- Mcpherson nuwe burgemeester van Oudtshoorn
Zoe Tyatya. Foto: Facebook
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'