Update
OUDTSHOORN NUUS - Walter Hendricks, waarnemende munisipale bestuurder van die groter Oudtshoorn-munisipaliteit, het tydens vandag se raadsvergadering bekendgemaak dat hy uit sy posisie bedank.
Hendriks is sedert September 2021 vir drie maande in die pos aangestel waarna sy kontrak deur die raad verleng is.
Hendricks se aanstelling is op daardie stadium as omstrede beskou omdat hy toe kriminele klagtes vir tenderbedrog en korrupsie in die gesig gestaar het toe hy in diens van George-munisipaliteit was.
Hendricks het gesê alhoewel dit uitdagend was om in Oudtshoorn te werk, hy baie vriende gemaak het.
"Aan die einde van die dag is alles politiek en nie persoonlik nie en vir daardie rede het ek my tyd in Oudtshoorn geniet. Baie dankie aan almal."
Burgemeester Chris Macpherson het bevestig dat hy bewus is van Hendricks se bedanking en dat hy dit aanvaar het.
Volgens Macpherson het dit ook onder sy aandag gekom dat minstens twee munisipaliteite Hendricks se dienste wil bekom.
Macpherson het Hendricks bedank vir die tydperk wat hy in Oudtshoorn werksaam was en gesê dat dit 'n voorreg was om saam met hom te werk.
Raadslid Zwelakhe TyaTya van die amptelike opposisie (ANC) het Hendricks alle sterkte toegewens.
Die proses om 'n nuwe munisipale bestuurder binne die volgende 30 dae aan te stel is tans aan die gang met die kandidate-kortlys wat môre gefinaliseer word.
Vorige artikels:
- Walter Hendricks se ontslag onwettig
- Hendricks se ontslag onwettig
- Donson en Hendricks uit
- Donson uitgestem as Onderburgemeester
- Gerald de Jager nuwe munisipale bestuurder
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'