Update
OUDTSHOORN NUUS - Die spreekwoordelike valbyl het verlede Vrydag op Oudtshoorn se onderburgemeester, Vlancio Donson (ICOSA), se kop geval nadat die ANC en OGI (Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief) 'n geslaagde mosie van wantroue tydens dié raadsvergadering ter tafel gelê het. Op dieselfde vergadering is daar ook gestem om van die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks ontslae te raak.
Volgens bronne in die ANC is die mosie teen Donson ingestel omdat hy glo met die DA in die geheim samesprekings gehou het en dus nie meer vertrou kan word nie.
Donson sê dit is onwaar en dat sy koalisie-vennote 'n rede soek omdat hulle self jag maak op sy posisie.
"Hul gulsigheid vir mag was die rede hoekom daar sedert my aanstelling amper elke maand 'n mosie van wantroue teen my was terwyl dienslewering stilstaan. Hoe kan ek met die DA, of enige ander party in die geheim konfedereer as ek na raadsvergaderings openlik met almal gesels.
"My posisie as onderburgemeester maak geen inbraak op my verhoudinge met mense wat lede van ander partye is nie; ek weet waar my lojaliteite lê. Onlangs het Leon Campher van die Advieskantoor ook in die media bevestig dat hy met ander partye praat. Wat OGI betref is dit algemene kennis dat hulle my blameer vir Colan Sylvester se bedanking as speaker. Wat my verwydering as onderburgemeester betref is daar ook heelwat procedural flaws wat ek in die hof kan betwis, maar om wat reg te kry? Dit sal net tot verdere onmin lei wat nie die dorp vorentoe sal vat nie," het Donson gesê.Sedert die inhuldiging van Oudtshoorn se nuwe munisipale raad sowat ses maande gelede het die speaker, en nou die onderburgemeesterstoele, reeds een keer verwissel.
Die aanvanklike speaker, Colan Sylvester (OGI), het in Januarie bedank en is toe met Sonia Bentley (GOOD) vervang.
Daar word reeds wyd gespekuleer dat Colan Sylvester op 3 Mei weereens die speakerpos sal beklee.
Leon Campher het Donson se beskuldiging heftig ontken dat hy afwesig was sonder verskoning by drie vergaderings.
Die nuwe onderburgemeester sal nou op 3 Mei tydens 'n spesiale raadsvergadering verkies word. Alle ander mosies sal ook tot dan oorstaan. Donson het na die mosies gesê dat hy geen kwade gevoelens jeens die ANC en sy voormalige koalisie-vennote koester nie en dat hy nog altyd geweet het dat posisies in die raad net tydelik is.
Donson het beklemtoon dat Icosa as't ware uit die ANC-koalisie gestoot is en nou in die opposisiebanke sal wees. Icosa is egter volgens hom oop om met enige party saam te werk indien dit dienslewering in Oudtshoorn sal bevorder.
Sou Icosa se leierskap besluit om amptelik by die DA-koalisie aan te sluit, sal dit hulle getal setels op 12 te staan bring - DA (7), Vryheidsfront (3) en ICOSA (2).
Die ANC-koalisie het ook op die oomblik 12 setels - ANC (8), PA (1), Dysselsdorp Advieskantoor (1), Saamstaan (1) en GOOD (1).
'n Koalisie in die Oudtshoorn-raad moet uit 13 raadslede bestaan om 'n meerderheidsbesluit in dié raad van 25 raadslede te neem.
Dit blyk in hierdie stadium dat die enigste oorblywende raadslid, Sylvester (OGI), hom in alle waarskynlikheid amptelik weer by die ANC-koalisie gaan skaar nadat hy vroeër bande verbreek het en in die opposisiebanke gesit het.
Sylvester het in 2020 as DA-burgemeester onder 'n donker wolk bedank na verskeie klagtes wat die DA teen hom aanhangig gemaak het, so die kanse is redelik skraal dat hy hom by die DA-koalisie sal aansluit, maar soos die geskiedenis in die politieke arena telkemale bewys het, is enige iets moontlik.
Daar word reeds wyd gespekuleer dat Sylvester op 3 Mei die nuwe speaker sal wees met Leon Campher (Dysselsdorp Advieskantoor) wat glo die voorste kandidaat vir die onderburgemeesterposisie is.
Oudtshoorn se voormalige munisipale bestuurder, Walter Hendricks.
Mosie teen die munisipale bestuurder
Op dieselfde raadsvergadering is 'n dringende mosie ingedien om van Walter Hendricks as waarnemende munisipale bestuurder ontslae te raak.
Na 'n bespreking en stemming in komitee, het 13 raadslede ten gunste van die mosie gestem, en 12 raadslede teen die mosie.
Die huidige finansiële hoof, Gerald De Jager, is toe as waarnemende munisipale bestuurder aangestel met Bjorn Metembo wat nou die hoof finansiële beampte in De Jager se plek is.
Hendricks se omstrede aanstelling as munisipale bestuurder is in Januarie deur FASO (The Forum of Anti-corruption and Service Delivery Oudtshoorn) veroordeel omdat Hendricks tans kriminele klagtes vir tenderbedrog en korrupsie in die gesig staar toe hy in diens van George-munisipaliteit was.
Net voor die raadsvergadering verdaag het, het Donson vir Campher beskuldig dat hy reeds drie raadsvergaderings sonder verskoning afwesig was en dus volgens wetgewing, geskors behoort te word. Campher het Donson se beskuldiging heftig ontken terwyl Sylvester beswaar gemaak het en gesê het dat dit slegs die LUR is wat 'n raadslid kan verwyder uit sy amp.
Intussen het plaaslike inwoners op Oudtshoorn Courant se Facebookblad hul misnoeë te kenne gegee oor die konstante binnegevegte terwyl die dorp daaronder ly.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'