Update
OUDTSHOORN NUUS - Dis onseker hoe lank Oudtshoorn se drinkwater nog troebel en ondrinkbaar gaan wees.
Johan Uys, bestuurder van Oudtshoorn-munisipaliteit se grootmaat-watervoorsieningswerke, het Woensdag gesê, "die troebelheid kan slegs deur 'n suiweringswerke uit die water verwyder word en soos almal weet beskik Oudtshoorn nie oor so 'n suiweringswerke nie.
"Die troebelheid sal mettertyd afsak, maar presies wanneer of hoe gou dit sal wees is moeilik om te bepaal".
Uys verduidelik dat dit in die verlede af en toe gebeur het dat Oudtshoorn se drinkwater troebel geraak het as gevolg van 'n sterk reënbui of wanneer daar 'n brand in die berg was. "Gewoonlik het dit so twee weke geneem vir die troebelheid om af te sak en was die drinkwater dan weer helder en skoon.
"Vandag is dit egter al ses weke nadat 'n sterk reënbui van 50 mm binne 'n halfuur in die opvangsgebied geval het en die water is nog steeds baie troebel as gevolg daarvan. Dit wil dus voorkom asof die deeltjies wat in suspensie is baie fyner is en dus moeiliker uitsak as in die verlede."
Volgens Uys is daar geen E.coli in die water nie, "maar die chlorinering is oneffektief as gevolg van die troebelheid en die water moet dus gekook word voor dit gedrink word".
Volgens 'n verklaring van Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, maak die kook van die water dit veilig om te drink, maar dit gaan nie die water skoner laat vertoon nie.
Onafhanklike toetsing
Na aanleiding van verskeie navrae van lesers en kommentare op Facebook-blaaie het die Oudtshoorn Courant op eie koste watermonsters laat toets.
Die monsters is Vrydag geneem en deur Deltamune Laboratoriums getoets. Volgens Deltamune se laboratoriumbestuurder, Etienne van Zyl, bevat die drinkwater geen E.coli of Colivorme nie.
Die toetse wys egter byna geen tekens van chloor nie en volgens hom is dit moontlik dat chlorinering nie effektief is nie omdat die onsuiwerhede wat die troebelheid veroorsaak die chloor absorbeer. Hy stem saam met die munisipaliteit se raad dat water as voorsorgmaatreël gekook moet word voordat dit gedrink word.
Damvlak daal
Die vlak van die Raubenheimerdam is tans op 46% en saam met die ekstra 5% wat in die Melvilledam geberg word is die gekombineerde vlak 51%.
"Die KKNK het natuurlik 'n invloed op die normale waterverbruik van die dorp en inwoners en feesgangers word ernstig versoek om water spaarsamig te gebruik," versoek Mangqwengqwe.
Lees vorige artikels:
- Kook steeds drinkwater
- Damvlak daal, tariewe onveranderd
- Reservoirs skoongemaak, e.coli nul
- Damvlak onder 50%
- Drinkwater minder troebel
- Daadwerklike aksie teen troebel water
- Opvolg: Troebel drinkwater
- Troebel drinkwater verduidelik
- Opvolg: Water is weer reg vir gebruik
- Oudtshoorn-water weer reg vir gebruik
- Drinkwater moet steeds gekook word
- Chlorine dose at maximum
- Muis of duif dalk in stelsel
- Drinkwater: Hoë bakterieë lesing
ARTIKEL: HANNES VISSER, REDAKTEUR EN CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'