OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vanoggend weer 'n watermonster by die Kerkstraat-reservoir geneem.
Dit het gister aan die lig gekom dat hierdie reservoir deur E.coli besmet is. Die E.coli telling by hierdie reservoir was gisteroggend 360 cfu/100ml.
Die besmetting het die munisipaliteit genoop om inwoners te waarsku om alle drinkwater eers te kook.
Die munisipaliteit wag tans op die uitslae van toetse op watermonsters wat vanoggend geneem is en hulle sal die publiek inlig sodra daar enige veranderinge is.
Volgens Aurelia Oliphant, munisipale woordvoerder, is daar geen teken van besmetting by die dorp se ander reservoirs nie.
“Die E.coli probleem is dus nie afkomstig van die Raubenheimerdam nie en is slegs teenwoordig in die betrokke reservoir," het Oliphant gesê.
“Gistermiddag het ons heelwat chloor in die betrokke reservoir gesit om die E.coli probleem aan te spreek."
Verskeie stappe word gevolg om te verseker dat die water weer so gou as moontlik veilig is vir menslike gebruik.
Die waarskuwing dat water eers gekook moet word, geld dus steeds tot verdere kennisgewing. Al borsel inwoners tande, moet die water eers gekook wees.
Lees vorige artikels:
• Munisipaliteit oor vuil water
• Chlorine dose at maximum
• Muis of duif dalk in stelsel
• Drinkwater: Hoë bakterieë lesing
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'