OUDTSHOORN NUUS - Met die Koos Raubenheimerdam se watervlak op 48%, het die Oudtshoorn-munisipaliteit nog geen waterbeperkings ingestel nie.
Die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, het Dinsdag op 'n vraag van die Oudtshoorn Courant of waterbeperkings ingestel gaan word, of reeds ingestel is, gesê: "Nie tans nie."
Die 2017/2018-munisipale begroting maak duidelik voorsiening vir droogtetariewe om in werking te tree sodra die damvlak 50% of minder is. Op hierdie begrotingsbesluit het Mangqwengqwe gesê: "Die munisipale tariewe is nog nie aangepas nie. Die droogte tariewe lê ter publieke insae tot 30 Augustus."
Die munisipale raad het in Junie kennis gegee dat die waterdruk na krane verlaag gaan word, sodra die damvlak onder 50% sak. Mangqwengqwe kon nie bevestig of dit wel gedoen is nie.
Die tariewe soos per goedgekeurde tariewe lys, saam met die finale begroting, is beskikbaar op die munisipale webtuiste.
Vir huishoudings dui die tariewelys aan dat wanneer die verhoogde tariewe in werking tree, dit as volg sal wees:
Fase 1
Gebruik per maand / Huidige tariewe / Verhoogde tariewe
0-6 kiloliter / R5,90 / R6,20 (Hulpbehoewende huishoudings kry die eerste 6 kiloliter water gratis)
7-15 kiloliter / R8,30 / R8,90
16-30 kiloliter / R11,20 / R11,30
31 -50 kiloliter / R13,10 / R14,40
51 - 75 kiloliter / R15,90 / R17,50
75 kiloliter + / R18,40 / R20,30.
ARTIKEL & FOTO: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'