Update
OUDTSHOORN NUUS - Na aanleiding van vrae wat lesers oor gister se berig oor Duif Newcastle-siekte gehad het, het die Oudtshoorn Courant weer ‘n navraag aan dr. Adriaan Olivier, ‘n veearts by die Volstruisbesigheidskamer, gerig.
Volgens hom het hulle toetse gedoen na ‘n aantal duiwe in inwoners se tuine gevrek het.
Olivier sê Duif Newcastle-siekte is ‘n redelik algemene virus wat regoor die land voorkom.
“Inwoners hoef glad nie bekommerd te wees oor die siekte nie. Dit is egter wel van toepassing op mense wat sier- en vlugduiwe, sowel as hoenders het. Daar word sterk aanbeveel dat dié diere geënt word. Vir die gewone mens om duiwe wat natuurlik voorkom te ent is moeilik. Die siekte is ‘n natuurlike proses en sal nie duiwe uitwis nie.”
Volstruise kan, volgens Olivier, aansteek as hulle met besmette duiwe in aanraking kom, maar volstruise word “standaard geënt en is dus redelik beskerm teen die siekte.”
Olivier sê mense moet die dooie duiwe moet handskoene hanteer en begrawe of vernietig.
Dit is nie gevaarlik vir honde of katte wat die duiwe sou vang nie.
Animal Care Team SA het ‘n aantal entstowwe geborg en dit sal van 12:00 vandag, gratis by die Kango Dierekliniek beskikbaar wees vir solank voorraad hou.
Volgens Olivier is kenmerkende tekens van die siekte meestal seunuwee-verwant soos hangvlerkies of koppies wat agtertoe val, maar kan dit ook asemhaling affekteer en maagwerkings in duiwe veroorsaak. Die virus is baie aansteeklik en taai en word, soos griep by mense, deur ‘n nies, of die mis wat agtergelaat word oorgedra.
Ongelukkig is behandeling selde suksesvol.
Lees 'n vorige artikel: Duif Newcastle-siekte in Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'