OUDTSHOORN - Die man wat van moord aangekla is nadat hy in Januarie 2018 glo drie keer oor 'n pa van vyf kinders gery en van die toneel weggejaag het, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.
Johnny Donson (41) is deur streek-landdros Ntsoki Moni skuldig bevind aan strafbare manslag en die versuim om by 'n ongelukstoneel hulp aan 'n beseerde te verleen.
Donson het ontken dat die oorledene, Ricardo 'Carthy' Fourie (43), in die pad voor die bakkie gesit of gelê het. Hy het egter net nadat hy vertrek het gevoel hy ry oor iets en onmiddellik stilgehou.
Die oorledene het toe agter die bakkie gelê en hy meen dat Fourie onder die voertuig voor die agterwiele moes gelê het.
Die staatsaanklaer Willem Vister, het die hof versoek om Donson in die lig van die drie staatsgetuies se getuienis, wat gesê het dat Fourie links van die bakkie gesit en Donson na sy kant toe geswaai het, skuldig te bevind. Die getuies het getuig dat hy vorentoe, agteruit en weer vorentoe oor Fourie gery het.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het met vonnisoplegging gesê Donson het nalatig opgetree. Hy het egter nie die opset gehad om die oorledene dood te ry nie.
Hy het nie soos 'n redelike persoon opgetree deur seker te maak waar die oorledene was nie omdat hy hom wel gesien het toe hy aan die regterkant van die pad stilgehou en by 'n huis ingegaan het.
Wat die klagte van versuim om hulp te verleen betref het die landdros bevind dat geen getuienis voor die hof is dat die beskuldigde se lewe nie in gevaar was toe hy met 'n bier in sy hand uit sy bakkie geklim het nie.
Hy het net na die oorledene gekyk waar Fourie agter die bakkie gelê het en toe weggery.
Volgens die landdros het hy nie eers 'n ambulans ontbied of Fourie in die hospitaal besoek nie.
Donson is tot vyf jaar gevangenisstraf vir strafbare manslag gevonnis en drie jaar vir versuim om hulp aan 'n beseerde te verleen.
Twee van die drie jaar is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort wat beteken dat hy effektief ses jaar agter tralies sal moet bly.
Vorige artikels:
- Donson-saak weer uitgestel
- Hof hoor van bakkie wat glo driekeer oor man ry
- Moordverhoor begin in Julie
- Klag van moord na tref-en-trap
- Tref-en-trap: Man borgtog toegestaan
- Man wat pa van 5 glo doodry in hof
- Opvolg: Tref-en-trap-slagoffer sterf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'