OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van 'n man van Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hy met sy bakkie oor 'n man gery en daarna van die toneel weggery het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van een van die ooggetuies tot Oktober uitgestel.
Johnny Donson (37) staan tereg op aanklag van moord en versuim om hulp aan 'n beseerde te verleen.
Die 43-jarige Ricardo Fourie, alom bekend as Carthy, het 'n paar dae na die voorval op 5 Januarie 2018 in Swawellaan, Bridgton, in die Grootte Schuur-hospitaal aan sy beserings beswyk.
Bevedine Britz, het getuig dat sy en 'n vriend op die hoek van Swawellaan en Springbokweg gestaan het toe Donson met sy bakkie verby hulle gery het. Daar was kinders agterop die bakkie en hulle het afgespring toe hy in Swawellaan stilgehou het. Sy het die oorledene in die pad sien sit en gesien hoe Donson vorentoe oor hom ry, agteruit oor hom ry en weer vorentoe oor hom ry.
Britz het getuig dat die straatligte gebrand het en sy goed kon sien. Sy was ook nie onder die invloed van drank nie.
Sy het ook gesien hoe Donson 'n bier drink en daarna van die toneel wegry.
Volgens haar was sy so geskok oor wat sy gesien het dat sy daarna huis toe gegaan en nie gewag het vir die polisie of 'n ambulans nie.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is vir verdere verhoor tot 7 Oktober uitgestel.
Donson se borgtog van R500 is tot dan verleng. Hy ontken skuld.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'