OUDTSHOORN NUUS - Die man wat daarvan aangekla word dat hy op 5 Januarie glo doelbewus oor 'n pa van vyf kinders in Swawellaan, Bridgton, gery het, verskyn weer vandag (Vrydag) op aanklag van moord in die hof.
Ricardo Fourie (43), alombekend as Carthy, het vier dae na die voorval in die Groote Schuur-hospitaal aan sy beserings beswyk.
Die bestuurder van die voertuig, John Donson (37), is op Sondag 7 Januarie op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem.
Die klag is egter na Fourie se dood na moord verander.
Rauweida de Villiers, Fourie se suster, het verlede week aan die Oudtshoorn Courant gesê die bakkie waarmee Fourie raakgery is, se voorwiele is glo twee keer bo-oor hom.
Donson het verlede Donderdag vir 'n tweede keer in die hof verskyn en die saak is deur landdros Lorraine Samuels vir 'n borgtogaansoek tot 19 Januarie uitgestel,
Begrafnisreëlings is nog nie deur die familie bekend gemaak nie.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'