OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Bridgton wat daarvan aangekla word dat hy in Januarie vanjaar met sy voertuig oor 'n inwoner in Swawellaan, Bridgton, gery en van die toneel weggery het, is in die streekhof weens 'n vol hofrol tot volgende jaar uitgestel.
Johnny Donson (37) staan tereg op aanklag van moord en versuim om hulp aan 'n beseerde te verleen.
Die voorval het op 5 Januarie vanjaar plaasgevind toe Donson na bewering bo-oor Ricardo Fourie (43) gery het. Donson is twee dae later in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord.
Die klag is na moord verander toe Fourie, alom bekend as Carthy, 'n paar dae later in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad aan sy beserings beswyk het. Fourie was die pa van vyf kinders.
Donson het Vrydag regshulp bekom en streeklanddros Retha Pretorius het die saak vir konsultasie en afskrifte van die dossier tot 16 Januarie 2019 uitgestel.
Sy borgtog van R500 en borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'