DE RUST NUUS - Met 2 500 km reeds in die motorfietssaal is dr. André Hattingh van De Rust, die stigter van Pediatric Care Africa, hierdie week in Thabazimbi.
Oudtshoorn Courant her verlede week berig oor Hattingh se motorfietsrit van 7 000 km om geld in te samel vir ’n lewensnoodsaaklike breinoperasie vir Caleb van Wyk wat nou agt maande oud is. Hattingh, ’n afgetrede neurochirurg, het voorverlede Sondag uit De Rust vertrek en keer op Sondag 1 Maart terug.
Bykans 180 motorfietsryers het verlede Saterdag by Hattingh aangesluit vir ’n massarit deur Nelspruit waar Caleb en sy ouers woon. Caleb het die massarit in ’n ambulans meegemaak. Hattingh ry egter nie slegs om geld in te samel vir Caleb se operasie nie. As deel van sy rit besoek hy ook kinderhuise en hospitale as deel van Pediatric Care Africa se gemeenskapsprojekte.
Maandag 16 en Dinsdag 17 Februarie het hy in Thabazimbi ’n voedingskema, twee kinderhuise en ’n hospitaal besoek waar vrywilligers en sakelui skoolbenodighede, skoene en voedsel geskenk het.
Hy het Woensdag na Rustenburg vertrek en daarna is hy in Johannesburg vir ’n massarit wat Saterdag 21 Februarie vanaf Sandton plaasvind.
Dr . André Hattingh by Caleb en sy ma, Larochelle van Wyk, in Nelspruit. Foto verskaf
Sondag 22 Februarie is hy deel van ’n massarit in Pretoria en volgende week vat hy die langpad Kaap toe.
Die Van Wyks het ’n BackaBuddy-projek vir Caleb se breinoperasie gestig en alle fondse wat Pediatric Care Africa met Hattingh se motorfietsrit insamel, word in daardie rekening inbetaal. Ten minste R800 000 moet ingesamel word vir Caleb se kostes.
Motorfietsryers genooi om Hattingh terug te verwelkom
Hattingh vertrek Sondagoggend, 1 Maart, uit Kaapstad en daar word beplan dat plaaslike motorfietsryers hom in Mosselbaai sal inwag en hom tot in De Rust sal vergesel waar sy rit amptelik afgesluit word.
Motorfietsryers wat Sondag Mosselbaai toe wil ry om Hattingh daar in te wag kan kontak maak met Joyce Crompvoets by 076 392 2177 of Hannes Visser by 083 467 1522. Volledige besonderhede oor die tyd en plek van die rit Mosselbaai toe en terug sal vroeg in volgende week bekendgemaak word.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’