OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van onderskeidelik R1 000 en R500 is verlede week in die Oudtshoorn landdroshof toegestaan aan 'n oud-soldaat en sy vriendin wat van huisbraak en besit van dwelms en gesteelde goedere aangekla word.
Vincent Goba (41) wat verskeie vorige veroordelings op sy rekord het, staan tereg op klagtes van huisbraak, die besit van dwelms en vermoedelik gesteelde goedere terwyl sy mede-beskuldighde, Chantell Marnewil (25), tereg staan op 'n klag van huisbraak. Albei is ook in sake in ander howe betrokke.
Die twee se regsverteenwoordiger, Clyde Avontuur, het aangevoer dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hulle toegestaan word.
Die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, het nie borgtog teengestaan nie omdat die beskuldigdes nie vlugrisiko's is en van die hof sal wegbly vir hul verskynings nie. Albei beskik ook oor vaste woonadresse. Hoewel Marnewil in Bosboklaan woon, word sy altyd by die woning van Goba in Dassieweg gevind.
Die staat beweer dat "bankies" tik, 'n gloeilamp vir die rook daarvan en nog 21 "bankies" in laaie in Goba se woonplek gevind is. Daar is ook 'n swart sak met vier selfone en 'n boor met boorpunte in 'n swart sak in Goba se ma se woning gevind, waarvan sommige as gesteel by die polisie aangemeld is. Volgens hom het hy die selfone van 'n man van Dysselsdorp gekoop.
Marnewil het 'n erkenning gemaak dat die dwelms aan haar behoort het.
Landdros Roelf Konstabel het borgtog toegestaan op voorwaarde dat die twee beskuldigdes nie by enige verdere misdrywe betrokke raak nie en die saak vir verdere ondersoek tot 7 Maart uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'