CALITZDORP NUUS - Boplaas Familie Wingerde in die pragtige Calitzdorp het vanjaar weer hul staal gewys by die gesogte Michelangelo International Wine & Spirits Awards, met 'n besondere prestasie wat hul reputasie as een van die streek se voorste produsente verder versterk.
Vir die tweede agtereenvolgende jaar het Boplaas die Brandewyn-trofee én die Spirit Grand Prix-trofee ingepalm.
Dié toekennings is toegeken aan die Boplaas 21 Jaar Potketel Brandewyn, wat daarmee as die beste brandewyn én die beste spiritualieë oor die algemeen aangewys is. Die aankondig is Maandag 7 September gemaak.
Boplaas se sukses het egter nie daar geëindig nie.
Die wynlandgoed het 'n verdere vier dubbelgoue medaljes en nege goue medaljes verower vir 'n indrukwekkende verskeidenheid produkte, waaronder rooiwyn, port, soetwyn, whisky en brandewyn.
Die Boplaas Single Grain 12 YO Whisky - Rum Cask Finish was die uitblinker onder die whisky-inskrywings en het 'n dubbelgoue medalje ontvang.
Die Boplaas-reeks is beskikbaar by hul proelokale in Calitzdorp, by Hart&Bosh buite Hartenbos en by Redberry Farm buite George, die ideale geleentheid om self van die bekroonde produkte te proe.
Vorige berigte:
- Springbok en Boplaas stel ekslusiewe rum bekend
- Boplaas-produkte kry toperkenning plaaslike en internasionaal
- Die Nel-familie se reis nou 'n pragboek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’