CALITZDORP NUUS - Twee bekendes, elk 'n kampioen op hul afsonderlike gebied, het kragte saamgesnoer om 'n versamelstuk-rum in die Tuinroete bekend te stel.
Die rum, 'n 10 jaar-verouderde weergawe waarvan daar slegs 500 bottels beskikbaar is, is geskep in 'n vennootskap tussen Boplaas en Springbok-rugbyheld André Esterhuizen.
Die funksie is by Boplaas se proelokaal in Hartenbos gehou.
Die ontstaan van die rum is te danke aan 'n samevloeiing van omstandighede. Die Nels van Boplaas is kranige rugbyondersteuners met heelwat vriende in die nasionale span.
Distilleerder Daniel Nel, stel ook af en toe 'n rum binne Boplaas se reeks bekend wat die uitsonderlike kwaliteite van ongewone houtveroudering ten toon stel.
André verteenwoordig nie net die nasionale span en die Sharks van KwaZulu-Natal nie, maar is ook 'n groot rum-entoesias.
Volgens Esterhuizen het hy tydens sy rugbyloopbaan die geleentheid gehad om van die wêreld se beste rums te proe.
Boplaas was nogtans vir hom 'n gunsteling, nie net weens die lang familiegeskiedenis agter die handelsmerk nie, maar ook weens die Nels se hoë premie op gehalte.
"Om 'n nuwe premium rum by die Boplaas-portefeulje te voeg, is altyd 'n trotse mylpaal vir ons, maar om dit in vennootskap met 'n nasionale ikoon soos André Esterhuizen te kan doen, het hierdie projek werklik buitengewoon gemaak. André deel ons diep passie vir vakmanskap en geduld, wat van dag een af duidelik was. Saam het ons 'n noukeurige reis aangepak totdat ons die absolute perfekte uitdrukking gevind het. Die rum, hoop ek, is 'n bewys van daardie toewyding, wat die sterk, kompromielose karakter waarvoor André op die rugbyveld bekend is, vermeng met die verfynde, ryk kompleksiteit wat Boplaas-produkte definieer. Ons kan nie wag vir rum-entoesiaste en Suid-Afrikaners om dit te ervaar nie."
Die Boplaas 1880 10 jaar-verouderde André Esterhuizen Rum vertoon sy weelderige kleure in 'n ryk tapisserie van geure en aromas tipies van topklas rums.
Die rum het aanvanklik vyf jaar in bourbonvate deurgebring, waarna dit nog vyf jaar verder gerus het in Boplaas se eie tawny port-vate.
Wat die rum nog meer uniek maak, is die omgewing waarin dit verouder is. Die warm Klein-Karoo-klimaat, met groot temperatuurverskille deur die dag en lae humiditeit, sorg vir vinniger veroudering en 'n meer gekonsentreerde profiel.
Dit beteken dat, al is die rum 10 jaar oud, dit die aroma- en geurprofiel van baie ouer rums aanneem.
Boonop verskil die rum se alkoholsterkte, waar die meeste rums met water verdun word om die konvensionele alkoholinhoud van 43% voor bottelering te bereik, is die Boplaas André Esterhuizen Rum gebottel op vatsterkte.
Dit verseker dat geen versteuring van sy natuurlike geur plaasvind nie. Die enkelvat-rum het 'n alkoholinhoud van 60%.
Die nuwe rum word bygevoeg by 'n reeks wêreldklas spiritualieë wat Boplaas vervaardig.
Die rum kan geniet word, met 'n titseltjie water of ys, maar is ook baie veelsydig. By die bekendstelling is die rum in skemerkelkies en mengeldrankies bedien.
Die Boplaas André Esterhuizen Rum is beskikbaar by Boplaas se proelokale in Calitzdorp en Hartenbos, asook aanlyn by www.boplaas.co.za.
Vorige berigte:
- Boplaas-produkte kry toperkenning plaaslike en internasionaal
- Die Nel-familie se reis nou 'n pragboek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’