CALITZDORP NUUS - Boplaas Familie Wingerde in Calitzdorp se uitstekende reputasie vir die vervaardiging van wêreldklas Kaapse portwyne, met bewese verouderingspotensiaal, is weereens beklemtoon toe die 25ste uitgawe van die Trophy Wine Show laas week in Paarl plaasgevind het.
Beoordelaars, bestaande uit plaaslike en internasionale lede, het die trofee vir Beste Museumklas Kaapse Port toegeken aan die Calitzdorpse produsent se Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2016.
Die oorwinning bewys nie net hoe goed die 2016-oesjaar tans, tien jaar ná bottelering, ontwikkel het nie, maar dra ook by tot Boplaas se geskiedenis van konsekwente uitnemendheid.
Die Cape Vintage Reserve Port 2016 is vroeër vanjaar aangewys as die beste gefottifiseerde wyn in Winemag se verslag oor 10-jaar-oue wyne en het ook 94 punte van Tim Atkin MW ontvang.
Die wyn is ingesluit by die SA Top 100 Wines nadat dit Grand Cru- en Double Platinum-toekennings ontvang het, het platinum verwerf by die Michelangelo International Wine and Spirit Awards en het goud gewen by die 2021 Veritas-toekennings.
Benewens die trofee het Boplaas ook uitstekende graderings ontvang vir sy Boplaas Cape Vintage Reserve 2024 en Family Reserve Ring of Rocks 2022, wat deur die beoordelingspaneel beskryf is as “uitstekende wyne van besondere onderskeiding”.
“Erkenning by die Trophy Wine Show is altyd ’n groot eer,” sê Margaux Nel, wynmaker van Boplaas.
Om ’n trofee vir ’n ouer wyn te wen, bewys hoe goed Boplaas se portwyne met tyd verbeter, en vir ons is tyd die uiteindelike maatstaf van grootsheid.”
Die Trophy Wine Show, geborg deur Investec, word beskou as een van Suid-Afrika se mees veeleisende wynkompetisies en word gelei deur Michael Fridjhon, die land se mees ervare en gerespekteerde wynbeoordelaar. Slegs ’n klein persentasie inskrywings word uiteindelik onder die Silwer-, Goud- en Trofeewenners gereken.
Vorige berigte:
- Springbok en Boplaas stel ekslusiewe rum bekend
- Boplaas-produkte kry toperkenning plaaslike en internasionaal
- Die Nel-familie se reis nou 'n pragboek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’