CALITZDORP NUUS - "Die meeste wat jy kan leer, is by jou pa," het Daniel Nel verlede Woensdag in Boplaas se proelokaal gesê met die bekendstelling van sy pa, Carel, se boek oor die familie se reis deur die lewe en met wyn.
Daniel het sy suster, Rozanne, wat die verwelkoming gedoen het, se woorde beaam dat dit 'n besonderse voorreg is om jou ouers by jou te hê en dat stories nie verlore raak nie.
Carel het ongeveer agt maande aan sy boek, 'n Reis - familie, vriende en wyn, geskryf en gesê hy sou dit nooit sonder die hulp van sy familie kon vermag nie.
"Almal het gehelp. Selfs die skoonkinders is nie ontsien nie, en ek dink hulle is almal baie bly die boek is uiteindelik klaar," het hy gesê. Die boek is nie bloot 'n vertelling van die geskiedenis van die Nel-geslagte op Boplaas wat reeds in 1880 begin het nie; dit is grepe, staaltjies, herinneringe, wyshede, avonture en ervarings van Carel Nel en sy gesin wat jaarliks pryse vir hulle wyn, port en whisky inryg.
Die boek bevat 585 foto's en 'n teks wat getuig van Carel as 'n fyn waarnemer met 'n goeie sin vir humor en iemand wat lief is vir lees. Hy vertel dat dit juis sy liefde vir lees is wat hom laat besluit het om die boek te skryf. Die agterbladteks van die boek bevestig dit: "Carel Nel glo dat sy liefde vir lees hom 'n buitengewone voorsprong in die lewe gegee het. Dit was die grootste dryfveer wat hom aangespoor het om sy stories neer te pen."
Die boek word opgesom as 'n "ryk samevatting van kontreistories en -geskiedenis - vermeng met sy (Carel) se eie lewenserva-ringe en insigte."
Carel is in 2021 as 'n 'Lewende Legende' in die Suid-Afrikaanse wynbedryf aangewys. Alhoewel wyn sy en sy gesin se lewe is, wys die boek ook talle ander aspekte van 'n lewe wat voluit en passievol geleef word.
Die boekbekendstelling was ietwat anders as ander bekendstellings aangesien elke gas wat genooi was, 'n gratis eksemplaar van die pragboek ontvang het - en natuurlik 'n bottel van Boplaas se uitsoek-port.
Terwyl gaste vir ete gesellig verkeer het, het Carel rondgestap en vir elkeen 'n sopie geskink van Boplaas se heel eerste port wat in 1986 as die SA kampioenport aangewys is.
Dit, meer as 'n eeu nadat die eerste brandewyn in 1880 in vate per ossewa van Boplaas af na Worcester vervoer is vanwaar dit per trein Kaapstad toe is om na Engeland uitgevoer te word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’