OUDTSHOORN NUUS - Die Boomplaasgrot, geleë in die Kangovallei aan die voet van die Swartberge noord van Oudtshoorn, word al hoe meer erken as 'n argeologiese skatkis.
Dr. Justin Pargeter 'n argeoloog van die New York Universiteit, het Woensdag 11 Junie 'n insiggewende praatjie oor die Boomplaasgrot by die CP Nel-museum in Oudtshoorn aangebied.
Tydens die geleentheid het hy ook die Kangovallei Argeologiese- en Paleolandskapprojek (CAPP) bekendgestel, 'n inisiatief wat daarop gemik is om jong plaaslike én internasionale argeoloë bloot te stel aan gevorderde navorsing oor menslike evolusie.
Die projek fokus veral op die oorgang van die middel- na die laat Steentydperk, en ondersoek hoe omgewings- en klimaatsveranderings oor millennia die lewenswyse van jagterversamelaars beïnvloed het. Boomplaas, wat unieke gestratifiseerde afsettings van beide die middel- en laat Steentydperk bevat, bied uitnemende navorsingsgeleenthede, veral danksy die uitsonderlike bewaring van organiese materiaal soos beddegoed, stuifmeel, houtskool, dierebene, klipwerktuie, potte en selfs plante.
"Wat Boomplaas so besonders maak, is die feit dat selfs dassiemis uitstekend bewaar is. Deur die ouderdom van hierdie mislae te bepaal, kan ons die tydlyne van bewoning akkuraat rekonstrueer en dit in verband bring met klimaatsveranderings en seevlakskommelings."
Volgens Pargeter het mense al tydens die proto-historiese tydperk in die grot gewoon. Nuwe datering en opgrawings bevestig dat die terrein verskeie kere bewoon is, dikwels tydens of net ná lae-intensiteit klimaatstoestande.
Die litiese data (oftewel werktuigdata) toon hoe vroeë mense verskillende tegnologiese strategieë gebruik het wat verband hou met hulle beweegpatrone en aanpassing by verskeie omgewingsuitdagings.
"Ons werk wys dat jagterversamelaars se gedrag baie meer kompleks en veranderlik was as wat vroeër geglo is. Hulle strategieë stem glad nie ooreen met die verwagtinge wat gebaseer is op die gedrag van moderne jagterversamelaars in byvoorbeeld die Kalahari nie," sê hy.
Plaaslike en internasionale studente van verskeie universiteite is al die afgelope vyf jaar betrokke by die projek en spandeer elke jaar 'n paar maande in die Oudtshoorn-omgewing om praktiese ervaring en nuwe insigte op te doen.
Pargeter en sy span beplan om in 2026 hul opgrawings by Boomplaas te hervat met die hoop om nóg meer lig te werp op die oorsprong en ontwikkeling van die mens in Suidelike Afrika.
Klik op die skakel vir 'n virtuele toer van Boomplaasgrot: Boomplaas cave excavation
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’