OUDTSHOORN NUUS - Vir Truida Steyl (78) was verpleging nooit net 'n beroep nie, dit was haar lewe.
Ná ses dekades van diens, waarin sy haarself met passie en oorgawe aan die versorging van ander toegewy het, het sy besluit om amptelik uit die beroep te tree. Sy stap egter weg met kosbare herinneringe en 'n leeftyd se lewenslesse.
Steyl vertel dat sy reeds op skool met disleksie gesukkel het, maar dat dit haar nooit gekeer het om haar droom om 'n verpleegster te word na te jaag nie. Sy het haar studies in Pretoria voltooi, waarna sy in Gqeberha (Port Elizabeth) haar kraamopleiding gedoen het.
In 1983 is haar man na Oudtshoorn verplaas en het sy by die Oudtshoorn-hospitaal as verpleegster begin werk.
"Bevallings en palliatiewe sorg was my gunsteling deel van verpleging. Daar was vir my niks mooier as om 'n baba te verlos en hulle hul eerste asemteug te sien neem nie. Ek het die voorreg gehad om soveel mense in die lewe te help bring, en ook om pasiënte en hul families tydens hul laaste en moeilikste oomblikke by te staan."
Oor die jare het Steyl by verskeie instansies en klinieke gewerk. In haar laaste jare in die beroep was sy by Famsa betrokke, waar sy pasiënte ná hul ontslag uit hospitale met mediese nasorg ondersteun het.
"Die Karoo was my kantoor. Ek het baie mense op plase en in informele neder-settings gehelp. Dit was ook waarskynlik die gunsteling fase van my beroep."
In 2001 het sy besluit om by uitreikwerk betrokke te raak. Oor die jare het sy saam met verskeie sendinggroepe na verskillende dele van die wêreld gereis om mense in afgeleë gebiede te help.
Haar eerste uitreik was na Israel, waar sy gehoop het om tydens 'n oorlog in die ongevalle-afdeling te help.
"Toe ek daar aankom, het hulle gesê ek is in Suid-Afrika geregistreer en kan nie daar in ongevalle werk nie. Hulle het my toe in die psigiatriese saal geplaas waar ek met persone met gestremdhede gewerk het."
Volgens Steyl het dié ervaring later 'n doel gedien. Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy eers by Eljada Kaïros en daarna by Eljada Nasorg as verpleegster gewerk.
Sy vertel dat sy tot 2018 jaarliks vir sowat drie weke aan sulke uitreike deelgeneem het.
"In Indië het ek by 'n weeshuis gewerk. Ons moes meters ver stap met emmers warm water sodat ons die kinders kon bad. Die kleintjies het in kommetjies gestaan en was so opgewonde wanneer hulle die skoon water oor hulle lyfies voel. Dit was iets wat hulle nie geken het nie."
Van al die lande wat sy besoek het, was Japan vir haar die interessantste.
In 2023 is Steyl met kanker gediagnoseer en moes dokters 'n deel van haar long verwyder.
"Dit was 'n baie moeilike tyd in my lewe, maar my herstel was vinnig. Ek het kort ná die operasie begin beweeg, want ek weet hoe vinniger jy opstaan en beweeg, hoe vinniger herstel jy."
Ten spyte van dié uitdagings het sy nooit opgehou om die lewe voluit te leef nie. Tussen haar werk as verpleegster en haar uitreike het sy en haar man ook avonture aangepak soos diepseeduik en rekspronge, terwyl sy terselfdertyd haar drie kinders grootgemaak het.
As sy raad aan jong verpleegsters kan gee, sê Steyl, sal dit wees om elke pasiënt soos familie te behandel.
"Die pasiënt voor jou beleef waarskynlik een van die moeilikste tye in hul lewe. Dit kon jy of jou familie gewees het. Versorg hulle soos jy sou wou hê jy of jou familie versorg moet word. In verpleging gee jy baie van jouself, en dit is reg om saam met pasiënte en hul families te voel - om saam te huil en saam hul vreugdes te vier."
Hoewel sy uitsien na die rustigheid van aftrede, beplan Steyl beslis nie om stil te sit nie.
"Ek leef nou net 'n bietjie rustiger, maar ek wil beslis weer uitreike doen, meer avonture beleef en ook weer reis."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’