TUINROETE DISTRIKSNUUS - Na aanleiding van ‘n bedrogsaak waartydens ‘n slagoffer derduisende rande tydens ‘n aanlyntransaksie verloor het, het die KwaNonqaba-polisie die kwessie van stemuitvissery oftewel voice phishing onder die loep geneem.
Volgens inligting verskaf deur die polisie, word veral ouer persone meer gereeld hierdeur uitgevang.
Stemvissery
Stemvissery is ‘n vorm van elektroniese bedrog, waarvolgens die bedrieër `n sakeonderneming of individu uitlok om hom of haar van persoonlike inligting soos wagwoorde, rekeningnommers of ander sensitiewe data te voorsien. Die bedrieër gee gewoonlik voor om ‘n werknemer van die bank waar die slagoffer sake doen, te wees.
As ‘n reël, wanneer hierdie kontak plaasvind, beweer die bedrieër dat hy of sy van die bedrog- of forensiese afdeling van die bank skakel. Hulle beweer dan om navraag te doen oor ‘n verdagte transaskie wat besig is om plaas te vind. Hierna versoek die bedrieër die slagoffer om aan te teken op sy of haar internetbankdiens. Wat egter eintlik gebeur, is dat ‘n transaksie op hierdie manier geskep word wat die bedrieër bevoordeel.
Bedrieërs kan egter ook self toegang tot internetbankdienste kry, waarna hulle alle gekoppelde rekeninge kan uitput. Sodra ‘n bedrieër genoeg van sy slagoffer se persoonlike inligting bekom het, kan hy of sy toegang tot selfoonbankdienste kry waartydens wagwoorde verander kan word.
Hulle doen dit gewoonlik deur vir ‘n slagoffer te sê dat hulle besig is om die vervalste transaksie te stop, maar dat `n one time pin (OTP) gestuur gaan word. Die slagoffer word dan gevra om die OTP terug te lees, waarna die nommer gebruik word om die slagoffer se wagwoord te verander en toegang tot bankdienste te kry.
Bedrieërs is so tegnologies gevorderd dat hulle deur middel van ‘n slagoffer se persoonlike inligting ontvang het, ‘n selfoonnommer kan kloon. Sodoende kry hulle dan toegang tot alle boodskappe wat na die slagoffer toe gestuur word. Die gevolg hiervan is dat internetwagwoorde verander kan word om toegang tot bankrekeninge te kry.
Slagoffers vertel
“Die bedrieër was goed voorbereid en het bewoording gebruik wat my oortuig het dat hulle wel `n werknemer van die betrokke bank of instansie is. Hulle praat ‘banktaal’ en is baie glad met die mond,” berig ‘n anonieme slagoffer.
Bedrieërs slaan graag toe op ouer persone. Gewoonlik skrik die slagoffer so groot as hulle `n oproep van die bank se bedrogafdeling ontvang, dat alle logika by die deur uitwaai. Die slagoffer dink nie reguit nie. Etlike slagoffers berig dat die bedrieër hulle so deurmekaar gepraat het dat hulle nie eers weet watter inligting hulle alles onnadenkend gegee het nie.
Wenke
- Maak seker dat jy jou bank se regte bedrogblitslynnommer byderhand het.
- Sodra jy so `n oproep ontvang, neem die persoon se naam, kontakbesonderhede en verwysingsnommer en lui dan die oproep af.
- Skakel dan jou bank se regte bedrogblitslynnommer en doen navraag oor die oproep wat jy ontvang het, of alternatief, kan jy na jou naaste bank toe gaan en persoonlik navraag doen.
- Moet nooit jou persoonlike informasie telefonies aan iemand verskaf nie.
- Moet nooit enige wagwoord of PIN nommer vir iemand gee nie, selfs nie vir jou bank se personeel nie.
- Moet nooit enige knoppies op jou foon druk indien ‘n verdagte persoon daarvoor vra. Sodoende kan kloning plaasvind.
- Moet nooit jou foon afskakel en weer aanskakel as hulle jou vra om dit te doen nie.
- Bedrieërs gebruik nie net banke nie maar kan ook voorgee om van maatskappye of selfs wetstoepassers te wees. Maak seker jy weet met wie jy praat en as jy onseker is, lui af, soek die maatskappy se regte kontaknommer en kontak hulle om te bevestig of hulle jou wel gekontak het en of die betrokke persoon daar werk.
- Blok die verdagte nommer en moenie die foon antwoord nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'