Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Daar was geen keer aan die honderde kinders wat Sondagaand, 30 November, op Kersvader se brandweerwa toegesak het, toe hy in Baron van Reedestraat stilhou nie.
Ouers en kinders het reeds vanaf vyfuur Sondagmiddag by die spuitfontein voor die munisipaliteit aangekom in afwagting op die aanskakeling van Oudtshoorn se Kersliggies.
Die bekende Paul Amas en verskeie verhoogkunstenaars het die mense vermaak terwyl almal gewag het tot die son sak.
Die geleentheid is deur die kantoor van die burgemeester, Johan Allers, gereël en ’n gedeelte van Langenhovenweg was vir die geleentheid gesluit.
Met verwelkoming het Allers die Kerswens uitgespreek dat elke huis liefde en geluk sal ervaar.
“My boodskap is die vraag, hoe het ek ’n gelukkige familielewe gedurende Desember? Ek wens aan elke huishouding omstandighede toe waar daar liefde, omgee en kos is.”
Hy het gesê dat liefde en omgee in ’n familie, rykdom is, en ’n beroep op elkeen gedoen om hulle families bymekaar te hou as die Kersseisoen begin.
Na die amptelike opening was dit natuurlik Kersvader se beurt om op ’n brandweerwa met flitsende ligte en loeiende sirenes op te daag. Die kinders het voor die burgersentrum bymekaargekom waar elkeen ’n geskenkie ontvang het. Daarna is die Kersliggies onder luide toejuiging aangeskakel.
Hetta Pretorius, burgemeester se kantoorbestuurder, het aan die media verduidelik dat hulle nie al die geskenke wat ontvang is Sondagaand uitgedeel het nie. “Daar gaan nog geleenthede in Dysselsdorp en De Rust wees, waar kinders geskenke sal ontvang en ons besoek ook kleuterskole om geskenkies uit te deel.”
Fotogallery: Honderde opgewonde kinders oor Kersliggiefees
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’