OUDTSHOORN NUUS - Van Reede Skool se gr. 9 kodering-en-robotikaspan is onderweg na Kaapstad vir die nasionale LEGO-liga uitdaagkompetisie, ’n eerste vir Suid-Afrika.
Leerders word deur middel van die unieke program bekendgestel aan die wêreld van wetenskap, ingenieurswese en innovasie, waar spanne kreatiewe modelle ontwerp en aanbied, gebou uit LEGO en aangedryf deur hul verbeelding.
Tydens die unieke kompetisie word die deelnemers beoordeel vir hul innovasie, kernwaardes en robotontwerp.
Innovasieprojek
Spanne het vyf minute om hul projek aan te bied en aan beoordelaars te verduidelik hoe hul projek werk. Daarna sal hulle ’n vraag-en-antwoordsessie ondergaan.
Kernwaardes
Beoordelaars sal kyk na hoe die span die eerste kernwaardes in alles wat hulle doen uitleef. Die beoordelaars fokus op spanwerk, hoe uitdagings aangepak word, hoe die span met ander omgaan en dit toepas terwyl hulle met hul robot werk.
Kernwaarde-aanbieding is nie verpligtend nie, maar moet hulle voorbeelde kan gee van hoe hulle dit vertoon het.
Robotontwerp
Tydens die beoordelingsessie sal die beoordelaars na die span se robot kyk en vra hoe is die robot ontwerp?, Wat maak die robot spesiaal?, Wat is die strategie wat die span in robotspel gebruik en hoe het die span se programmering, oftewel kodering die robot laat werk?
Studies toon dat kinders wat aan die uitdaging deelneem kritiese denke, tydsbestuur, samewerking, asook effektiewe kommunikasie leer terwyl hul meer selfversekerd raak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’