Update
OUDTSHOORN NUUS - Die moordverhoor van Preston Titus het Maandagoggend met die inlees van 'n verklaring van Masithembe January (MJ), een van die verdagtes in die saak, begin.
Staatsadvokaat Christhénus van der Vijver het aan die hof gesê MJ het die verklaring op 12 April 2018 by die polisie afgelê. In die verklaring sê hy dat hy en Magdaleen Titus, Preston se vrou, Justice Mooi (die beweerde huurmoordenaar) in Port Elizabeth ontmoet het.
Volgens die verklaring het Titus en Mooi 'n vergadering gehad en MJ het na die tyd vir Titus gevra waaroor dit gegaan het. Titus het toe aan MJ gesê dat sy iemand gekry het om haar man te vermoor omdat haar man haar glo ook wou vermoor. Luidens die verklaring het Titus ook aan MJ gevra of hy haar sal bystaan wanneer die plan deurgevoer word, waarop hy geantwoord het dat hy nie seker is of hy sal nie.
Verhoor binne verhoor
Van der Vijver het ook aan die hof gesê dat Mooi se regsverteenwoordiger, adv. Stoffel Prinsloo, die bekentenis wat Mooi na bewering afgelê het, in die hof betwis, omdat daar bewerings is dat die verklaring onder dwang afgelê is en dat Mooi hardhandig deur die polisie behandel is.
Die hof het toestemming tot 'n verhoor binne 'n verhoor verleen sodat die kwessie rondom die omstandighede waaronder die verklaring afgelê is opgelos kan word.
Ao. Blackie Swart het getuig dat hy Mooi na die Oudtshoorn-hospitaal geneem het voor en na die aflê van die bekentenis. Volgens hom is die doel van die besoek dat 'n dokter Mooi kon ondersoek om te bewys of daar enige beserings aan Mooi toegedien is.
Prinsloo het dit aan hom gestel dat die dokter nooit die regte ondersoek gedoen het nie en slegs bewys het dat sy kliënt nie onder die invloed van drank was nie.
Mooi beweer verder dat sy regte nie korrek aan hom voorgelê is nie.
Sers. Vuhokazi Ludonga, wat saam met kapt. Deon Bouwer en ao. Martin le Roux, twee ondersoekbeamptes, na Port Elizabeth gereis het om Mooi in hegtenis te neem, was die volgende getuie.
Volgens haar is Mooi in 'n McDonald's in Port Elizabeth in hegtenis geneem en is sy regte in Engels aan hom voorgehou. Hy het, volgens die sersant se getuienis, ook aan Le Roux in Engels gesê dat hy sy regte verstaan. Volgens haar is hulle na die polisiestasie in PE waar Mooi aan haar gevra het om 'n foto van hom en Le Roux te neem sodat hy die dag van sy arrestasie kan onthou wanneer hy onskuldig bevind word.
Prinsloo het dit aan haar gestel dat die polisie met hul terugkeer na Oudtshoorn vir Mooi probeer oortuig het om die waarheid te praat en dat daar glo hard met hom gepraat is en daar op hom geskree is. Volgens haar het dit nie gebeur nie. Sy het weer met hom gesels toe sers. Sharoné Flemmer haar gevra het om in te sit in die gesprek tussen haar en Mooi by die Oudtshoorn-polisiestasie se aanhoudingselle.
Lt.kol. Eric Jullies het getuig dat hy die dag van Mooi se arrestasie van George gekom het om die bekentenis af te neem omdat dit protokol is dat 'n beampte wat niks met die saak te doen het nie só 'n verklaring afneem. Die verklaring is op video opgeneem en hy het getuig dat dat Mooi rustig was en verstaan het wat hy doen. Mooi se duimafdruk is ook langs sy handtekening op die bekentenis sigbaar.
Volgens Jullies word dit so gedoen om te bewys dat die bekentenis vrywillig deur daardie persoon gegee is.
Flemmer het getuig dat sy Mooi in die selle op Oudtshoorn gesien het en dat sy nuuskierig was en toe met hom begin gesels het. Sy het aan hom gesê dat sy niks met die saak te doen het nie en hom gevra of hy met haar oor die saak wil praat. Sy het daarna vir sers. Ludonga gaan haal sodat sy in die gesprek teenwoordig kan wees. Volgens Flemmer se getuienis het Mooi alles aan haar vertel en gesê hy wil 'n bekentenis maak. Sy het aan hom verduidelik dat hy dit voor 'n onafhanklike beampte moet doen en hy was tevrede daarmee. Flemmer het getuig dat sy na die gesprek vir Bouwer gaan sê het Mooi wil 'n bekentenis aflê.
Prinsloo het dit in kruisondervraging aan haar gestel dat die ondersoekbeamptes haar gebruik het om Mooi te oortuig omdat sy op 'n sagter manier met hom gepraat het as wat hulle het. Sy het geantwoord dat sy niks met die saak te doen gehad het nie en dat sy bloot met hom gaan praat het omdat sy nuuskierig was, nie omdat sy 'n opdrag van ondersoekbeamptes af gekry het nie.
Le Roux het Dinsdagmiddag begin getuig oor Mooi se arrestasie in PE. Die saak is Woensdag egter deur regter Nolwasi Boqwana na 13 Mei uitgestel omdat die kragopwekker van die hof buite werking was en omdat regsverteenwoordigers sukkel met verblyf tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Le Roux sal dan sy getuienis in die hof voortsit.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoordverhoor steeds aan die gang
- Weermagmoord: Selfoonrekords ontleed
- Weermagmoord: Moordverhoor uitgestel
- Weermagmoord: Week 3 van moordverhoor
- Weermagmoord: Titus sê Klip is meesterbrein
- Weermagmoord: Ter plaatse ondersoek
- Weermagmoord: Staat klaar met Klip
- Weermagmoord: Klip getuig in moordverhoor
- Weermagmoord: Dag 4 van weermagmoordverhoor
- Weermag-moordverhoor begin
- Dag 3 van weermagmoordverhoor
- Opvolg: Dag 2 van Weermagmoordverhoor
- Weermagmoord-verhoor: Dag 2
- Opvolg: Weermagmoord-verhoor
- Weermagmoord: Saak begin amptelik
- Weermagmoord: Verdagtes vandag in hof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'