Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 10 verdagtes, wat aangehou word in verband met 'n gewapende roof by die SWD Groentemark in Oudtshoorn in Oktober 2021, moes Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof wéér uitgestel word omdat van die beskuldigdes weer hul regsverteenwoordigers se dienste gestaak het.
Die 10 verdagtes, waaronder 'n 18-jarige wat op borgtog was en in hegtenis geneem is omdat hy nie hofverrigtinge bywoon nie, word daarvan aangekla dat hulle op 22 Oktober verlede jaar werknemers van die groentemark met vuurwapens gedreig, vasgebind en van sowat R30 000 en vyf selfone beroof het.
Agt van hulle is nog dieselfde dag naby Prins Albert in hegtenis geneem met al die geld, vuurwapens en selfone in hul besit, en die ander twee 'n paar dae later.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het Woensdag aan die verdagtes gesê dat hulle besig is om hul eie saak te vertraag en "almal se tyd mors".
Behalwe vir die verdagtes wat die hof meegedeel het dat hulle nie gelukkig is met hul regshulprokureurs nie, het 'n ander beskuldigde aangedui dat hy om borgtog aansoek wil doen.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof meegedeel dat al die staatsgetuies beskikbaar is om voort te gaan met die verhoor.
Die landdros het daarna die verdagtes gewaarsku dat almal wat op 24 Oktober nog nie 'n regsverteenwoordiger aangestel het nie, van regshulp gebruik moet maak of sy eie saak hanteer.
Vorige artikels:
- Groentemark- rowersaak weer uitgestel
- Borgtog aan vermeende rowers geweier
- Groentemarksaak uitgestel
- Borgtogsaak van 10 volgende week
- Gewapende rowers binne ure vas
- Vermeende rowers vas
- Nog 'n gewapende roof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'