Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vierde gewapende roof sedert Julie vanjaar het verlede Vrydag by SWD Groentemark op die hoek van Rademeyer- en Jonesstraat plaasgevind.
In Julie het vier mans met wapens 'n geldwa by die Bridgton-vulstasie beroof.
Indraf Kafee is einde Augustus ook deur twee mans met 'n wapen beroof.
Einde September het vyf mans Halaal Kafee in Voortrekkerweg met 'n wapen beroof.
Al die verdagtes in die vorige voorvalle is kort na die rowe in hegtenis geneem en die gesteelde goedere is teruggevind.
Volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is 10 verdagtes in verband met Vrydag se roof by SWD Groentemark in hegtenis geneem.
Die eerste agt is Vrydag naby Prince Albert in hegtenis geneem en die polisie het die afgelope naweek nog twee verdagtes gearresteer. M Mbunuwe, M Ramajuwl, L Maqutywa, T Mako, U Jbenegbu, S Heynes, JC Eze, Y Booi, S Awawa en D Animalu het Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van roof met verswarende omstandighede verskyn. Dit blyk ook dat al die verdagtes Suid-Afrikaanse burgers is wat in die Oos-Kaap woon.
Polisie op die toneel by SWD Groentemark.
Volgens inligting wat Vrydag op die toneel bekom is, het die mans aan Jonesstraat se kant van die winkel ingekom en wapens op die werkers gerig. Van die werkers is met kabelstroppe vasgebind en een is deur een van die rowers aangerand.
Hulle het met R30 000 kontant en vyf selfone in 'n taxi met 'n Oos-Kaap registrasienommer gevlug. Die polisie het met die inhegtenisname van die verdagtes die gesteelde goedere teruggevind en daar is ook twee speelgoedwapens in die taxi gevind.
Volgens nog 'n man wat op die toneel was het dieselfde taxi glo vroeër Vrydagoggend by 'n ander kafee naby die groentemark gestop.
Volgens die man het net twee mans by die kafee ingekom, maar het verdag voorgekom omdat hulle meer as eenkeer binne die winkel was en elke keer dieselfde items gekoop het. Volgens hom het dit gelyk of die verdagtes moontlik die groentemark van die kafee af dopgehou het.
Die toneel van die rooftog verlede Vrydag.
SWD Groentemark se perseel aan Jonesstraat se kant waar die rowers toegang tot die winkel verkry het.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'