OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van tien verdagtes wat in hegtenis geneem is na 'n gewapende roof by die SWD Groentemark in Oudtshoorn, het verlede Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof begin en is na die aanhoor van vier se aansoeke vir voortsetting uitgestel tot 7 Desember.
Die saak spruit uit die gewapende rooftog op 25 Oktober vanjaar toe ‘n groep mans die werkers van die groentemark vasgebind en met R30 000 kontant en vyf selfone op die vlug geslaan het.
Die Quantum-bussie is dieselfde dag deur die polisie van Prins Albert voorgekeer en al die geld en selfone is terug gevind.
Die verdagtes waaronder ‘n 17-jarige jeugdige, word van roof met verswarende omstandighede en menseroof aangekla.
Die eerste verdagte, Litha Moqutyna (30) van Crossroads, Kaapstad, het getuig dat hy ‘n taxibestuurder is en gehuur is om agt persone na Oudtshoorn te bring en nie geweet het wat hulle kom doen het nie.
Hy het onder kruisverhoor erken dat hy binne die groentemark was en dat hy nie van die hof sal wegbly indien hy borgtog toegestaan word nie. Hy kan R1 000 borgtog bekostig.
Justice Eze (30) van Kaapstad sê in sy aansoek wat deur sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, aan die hof voorgelees is, dat hy geen hangende sake teen hom het nie en oor ‘n vaste werk en woonadres beskik. Hy sal nie vir sy hofverskynings wegbly nie en onskuldig pleit op die aanklagte teen hom. Hy sal ook enige borgtogvoorwaardes nakom.
Die hof het die aansoeke van vier van die tien verdagtes aangehoor en die saak is vir voortsetting deur landdros Stephanie Strydom tot 7 Desember uitgestel.
Brandon Smith is die aanklaer terwyl Brian Carelse van die Regshulpraad namens ses van die applikante verskyn en adv. Benito Metembo vir die ander vier, met drie tolke wat die vertaling doen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'