Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen drie moordverdagtes, twee van Dysselsdorp en die stiefbroer van die oorledene, is in die streekhof vir pleit en verhoor tot 1 Desember uitgestel.
Herman Redelinghuys (23) word saam met Abraham Swartbooi en Adrian Isaacs daarvan aangekla dat hulle op 11 Januarie vanjaar vir die 24-jarige Jacques Liebenberg, Redelinghuys se stiefbroer, vermoor het.
Liebenberg se liggaam is die volgende dag met veelvuldige steekwonde deur polisiebeamptes van Dysselsdorp langs die Kammanassie-pad gevind waarna drie verdagtes die volgende dag in hegtenis geneem is.
Redelinghuys is borgtog geweier nadat hy die hof meegedeel het dat hy onskuldig gaan pleit, terwyl Swartbooi en Isaacs besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie.
Die oorledene is glo met ‘n hamer geslaan en verskeie kere met ‘n mes in die bors en nek gesteek.
Die staat voer aan dat dit ‘n beplande moord was en dat Redelinghuys vir Swartbooi en Isaacs elk R750 belowe het.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak op versoek van die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, tot 1 Desember uitgestel.
Vorige artikels:
- Beweerde moordenaar vra sielkundige hulp
- Geen borgtog vir vermeende moordenaar
- Kammanassie-moord uitgestel
- Kammanassie-moord: Borgtog laat vaar
- Campher teen borgtog van Redelinghuys
- Kammanassie-pad moord
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’