Update
OUDTSHOORN NUUS - Herman Redelinghuys (24), hoofverdagte in die moordsaak en ook halfbroer van die vermoorde, Jacques Liebenberg (33), het op 20 Maart in die Oudtshoorn-landdroshof vir borgtog verskyn.
Redelinghuys het saam met twee ander verdagtes, wat voor hul eerste hofverskyning vrygelaat is en nou met die saak verbind word, verskyn.
Liebenberg se liggaam is Donderdag 12 Januarie omstreeks 02:15, langs die Kammanassie-pad in die landelike omgewing van Dysselsdorp deur Dysselsdorp-polisie gevind.
Hy het veelvuldige wonde aan sy gesig, kop en bors gehad en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Staatsaanklaer se vertoë teen borgtogaansoek
Staatsaanklaer Nosipho Makana het in haar openingsvertoë teen die borgtogaansoek genoem dat die saak nou 'n skedule 6-moordsaak is.
Die beskuldigde moet bewys dat daar buitengewone omstandighede teenwoordig is wat dit in belang van geregtigheid maak dat hy vrygelaat kan word.
Sy het aangevoer dat die verdagtes almal ingestem het tot die daad en dit met voorbedagte rade gepleeg is.
Makana het ook melding van 'n ooggetuie gemaak wat saam met die vermeende moor-denaars in die voertuig was toe hulle vir Liebenberg opgetel het om hom te vermoor.
Sy het ook genoem dat daar nêrens in Redelinghuys se verklaring melding gemaak word van dié ooggetuie nie omdat hy weet wat hierdie bewys vir die hof sal beteken, en het na hom as die meesterbrein agter die moord van Liebenberg, verwys.
Landdros se uitspraak
Landdros Vaughn Shone het in sy uitspraak gesê dat hy in die besluit om Redelinghuys vry te laat al dan nie, die moontlike straf, sou hy skuldig bevind word, in ag neem.
Hy het ook genoem dat Redelinghuys tydens dié hofverskyning gesê het dat hy beoog om onskuldig te pleit tydens sy verhoor, dit nadat hy 'n bekentenis by die polisie afgelê het, wat hy nou aanvoer nie uit vrye wil was nie.
Shone het uitgewys dat daar op hierdie stadium nie genoeg getuienis voor die hof is om te bevind dat die bekentenis nie vrywillig afgelê is nie.
Shone het verskeie faktore uitgewys soos die gespanne verhouding tussen Redelinghuys en Liebenberg, DNS-verslae wat nog uitstaande is, bewyse wat in die besit van die staat is en dat 'n petisie met 545 handtekening van die publiek aan die hof oorhandig is.
Shone het verder gesê dat die staat nie soos Redelinghuys aanvoer, "'n swak saak" het nie en die staat meer bewyse as net sy verklaring in besit het.
Met sy finale uitspraak het Shone genoem dat die moordsaak wel die oortreder se eerste oortreding is, hy nie 'n aggressiewe geskiedenis het nie en dat daar nie enige bewyse voor hom lê wat kan toon dat die beskuldigde met bewyse sal peuter nie.
Hy het gesê dat die faktore wat voor hom gelê is nie buitengewoon is nie en dat dit nie in die beste belang van geregtigheid sal wees om Redelinghuys vry te laat nie.
Die saak is tot 20 April vir verdere ondersoek uitgestel. Redelinghuys en die twee verdagtes bly in aanhouding. Adv. Benito Mtembo het names die beskuldigde verskyn.
Vorige artikels:
- Kammanassie-moord uitgestel
- Kammanassie-moord: Borgtog laat vaar
- Campher teen borgtog van Redelinghuys
- Kammanassie-pad moord
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’