OUDTSHOORN NUUS – Die vermoorde man wat verlede, Donderdag, 12 Januarie, langs die Kammanassie-pad in die landelike omgewing by Dysselsdorp gevind is, is deur die plaaslike gemeenskap as Jacques Liebenberg (34) geïdentifiseer.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, is drie verdagtes die volgende dag, 13 Januarie, in verband met die moord in hegtenis geneem.
Twee van die drie is egter vóór hulle op 16 Januarie in die hof sou verskyn, vrygelaat. Volgens Spies is daar op die stadium nie genoeg bewyse teen die twee mans om hulle met die saak te verbind nie.
"Die ondersoek na die moord is in 'n vroeë stadium en die moontlikheid dat nog persone gearresteer kan word, is nie uitgesluit nie."
Die ander verdagte, Herman Redelinghuys (24), is die vermoorde man se broer. Hy het Maandag 16 Januarie in die Oudtshoorn-landdroshof voor landdros Vaughn Shone verskyn en bly in aanhouding. Sy saak is tot Donderdag
26 Januarie vir 'n borgtogaansoek uitgestel. Hy word deur Johan Duvenhage van Duvenhage Keyser & Jonck prokureurs verteenwoordig.
Liebenberg se liggaam is op 12 Januarie omstreeks 02:15 deur die Dysselsdorp-polisie gevind. Hy het veelvuldige wonde aan sy gesig en kop gehad en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Volgens Spies is die naasbestaandes van Liebenberg in die Kaapse-metropool opgespoor en moet hulle nog die liggaam formeel kom uitken.
Leon Campher, raadslid van Oudtshoorn en 'n gemeenskapsleier van Dysselsdorp, het voor die hofverrigtinge aan Oudtshoorn Courant genoem dat hy 'n petisie, waarin versoek word dat borgtog teengestaan word, gaan opstel. "Hierdie gedrag moet nou end kry, geen moordenaar sal in die gemeenskap geduld word nie."
Die motief agter die moord word nog ondersoek. Dit is ook nog onbekend of Liebenberg langs die Kammanassie-pad of iewers anders gesterf het.
Die ondersoekbeampte, sers. Daniel Nel, vra dat enigiemand met leidrade of inligting hom moet kontak by 079 093 9962.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'