Update
OUDTSHOORN NUUS - Die skoolhoof van 'n primêre skool in die De Rust-distrik, wat van verkragting aangekla is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind en ontslaan.
Nicholas de Jongh (49) is daarvan aangekla dat hy op 9 Maart 2017 'n 47-jarige vrou van De Rust verkrag het.
Die voorval het na bewering die aand in Meiringspoort plaasgevind. Nadat hulle vroeër die aand eers by die klaer se huis op De Rust gedrink en daarna by 'n sportkroeg op Oudtshoorn verder gekuier het.
Volgens die klaer het die beskuldigde al by die kuierplek probeer om haar te soen terwyl hulle gedans het, maar sy het haar rug op hom gedraai.
Met hul terugkeer na De Rust het die beskuldigde agter in die motor gesit omdat hy glo te veel gedrink het.
Die klaer is in die vroeë oggendure saam met die beskuldigde na sy blyplek in Klaarstroom omdat sy hom nie alleen wou laat ry nie.
Volgens haar het hulle in Meiringspoort stilgehou en hy het haar aan die nek gesuig en verkrag.
Sy het ook getuig dat sy die beskuldigde twee dae later gebel het om te vra waarom hy dit aan haar gedoen het.
Hy het haar toe glo later per SMS om verskoning gevra.
Die beskuldigde het ontken dat hy die klaer in die sportkroeg wou soen en die beweerde dade in Meiringspoort gepleeg het.
Streeklanddros Retha Pretorius het dit vreemd gevind dat die klaer haar lewe op die spel geplaas het om saam met 'n dronk man deur die gevaarlike Meiringspoort te ry.
Net so het sy dit vreemd gevind dat die beskuldigde later die oggend teruggery het na Oudtshoorn om hom te gaan was.
Dit is egter duidelik dat iets met die klaer gebeur het waaroor sy ontsteld was.
Volgens die landdros het die twee staatsgetuies goeie indrukke op die hof gemaak terwyl dieselfde nie van die beskuldigde gesê kan word nie.
Sy het ook bevind dat daar vele gebreke in die getuienis van die klaer is.
Sy glo nie die weergawe van die beskuldigde nie, maar dit kan nie net verwerp word nie.
"Iets het daardie aand met die klaer gebeur waaroor sy baie ontsteld was, maar die hof is van mening dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie, en word die beskuldigde vrygespreek," het die landdros afgesluit.
Elaine Plaatjies het vir die staat en Christo van der Bergh vir die beskuldigde verskyn.
Lees vorige artikels:
- Skoolhoof uitspraak later
- Saak teen skoolhoof vir uitspraak uitgestel
- Skoolhoof in 2020 in hof
- Verhoor van skoolhoof in Augustus voortgesit
- Skoolhoof eers in 2019 verhoor
- Verhoordatum vir skoolhoof in verkragtingsaak
- Saak teen skoolhoof uitgestel
- Skoolhoof kry borgtog in verkragtingsaak
- Skoolhoof kry borgtog in verkragtingsaak
- Onderwyser voor vir verkragting
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'