OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n skoolhoof van 'n primêre skool in die De Rust-distrik wat van verkragting aangekla word, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof na die slotargumente van die staat en die verdediging, vir uitspraak tot Maart uitgestel.
Nicholas de Jongh (57), word daarvan aangekla dat hy op 9 Maart 2017 'n 47-jarige vrou van De Rust verkrag het.
Hy pleit onskuldig.
De Jongh het Dinsdag getuig oor wat die betrokke aand gebeur het.
Volgens hom het hy saam met die klaer en Lesley Welman by die vrou se huis in De Rust gekuier waarna hulle na 'n plaaslike sportkroeg op Oudtshoorn gegaan het om verder te kuier.
Hy het erken dat hy en die klaer ook later gedans het, maar ontken dat hy haar probeer soen het. Hulle het omstreeks 01:00 teruggery na De Rust en is weer na die klaer se huis om sy motor te kry.
Die klaer het glo besluit om saam met hom na sy woning te ry en dat Welman hulle sou volg om haar weer terug te bring.
Die beweerde verkragting het glo gebeur toe die beskuldigde in Meiringspoort stilgehou het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir De Jongh se skuldigbevinding gevra omdat sy weergawe nie sin maak nie. Sy het dit aan hom gestel dat hy die klaer se broek uitgetrek en haar verkrag het. Dit is waarom sy so ontsteld was en hom begin skel het. Sy het dit ook aan hom gestel dat die klaer opreg bekommerd was oor sy veiligheid en daarom aangedring het om saam met hom te ry omdat hy baie dronk was. "Die klaer het 'n goeie verduideliking van gebeure gegee en dit is nie onwaarskynlik dat sy verkrag is nie," het Plaatjies gesê.
Oor die feit dat die klaer ontsteld was en die beskuldigde geskel het, is die staat van mening dat dit juis is omdat die beskuldigde haar verkrag het. Sy wou van hom weet waarom hy dit aan haar gedoen het.
De Jongh se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die hof gevra om hom die voordeel van die twyfel te gee en vry te spreek. Van der Bergh het gesê daar is geen mediese bewyse voor die hof nie.
Die staat het nie vir Lesley Welman geroep om te getuig nie en dit bekragtig nie die klaer se getuienis nie. Volgens Van der Bergh is dit ook kommerwekkend dat die klaer nie onmiddellik na die polisie is nie, maar eers 'n paar weke later.
Sy het die oggend na die beweerde voorval ook vir niemand daarvan vertel nie en glo vir Welman gesê dat sy nie weet wat aangegaan het nie. "Sy het ook die beskuldigde gebel om te hoor wat gebeur het en hy moet die voordeel van die twyfel te kry," het van der Bergh afgesluit.
Die saak word deur streeklanddros, Retha Pretorius aangehoor wat ook 'n hele aantal vrae aan die beskuldigde gestel het.
Oor waarom die klaer hom uitgeskel het, het De Jongh geantwoord dat dit is omdat hy haar 'n slegte vrou genoem het. Volgens die landdros is dit ook duidelik dat die klaer opreg bekommerd was oor sy veiligheid en daarom aangedring het om saam met hom te ry.
Die saak is tot 19 Maart vir uitspraak uitgestel en De Jongh se borgtog van
R2 000 en borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Lees vorige artikels:
- Skoolhoof in 2020 in hof
- Verhoor van skoolhoof in Augustus voortgesit
- Skoolhoof eers in 2019 verhoor
- Verhoordatum vir skoolhoof in verkragtingsaak
- Saak teen skoolhoof uitgestel
- Skoolhoof kry borgtog in verkragtingsaak
- Skoolhoof kry borgtog in verkragtingsaak
- Onderwyser voor vir verkragting
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'