OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n skoolhoof van 'n primêre skool in die Oudtshoorn-distrik, wat van verkragting aangekla word, is weens 'n vol hofrol in die Oudtshoorn-streekhof tot volgende jaar uitgestel.
Die 55-jarige man word daarvan aangekla dat hy glo op 9 Maart 2017 'n 47-jarige vrou van De Rust verkrag het.
Die voorval het glo in Meiringspoort plaasgevind. Borgtog van R2 000 is in die landdroshof aan hom toegestaan en die saak is op 31 Maart 2017 na die streekhof oorgeplaas.
Die beskuldigde het geen vorige veroordelings of hangende sake teen hom nie. Streeklanddros Retha Pretorius het die saak tot 15 Januarie 2019 uitgestel en borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Hy mag nie kontak maak met die staatsgetuies in die saak nie en ook nie van adres verander sonder die medewete van die ondersoekbeampte nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'