KLEIN KAROO NUUS - Die nasionale regering het verlede week R25 miljoen bewillig vir droogte mitigasie ingrypings in die Sentraal Karoo- en Tuinroete-distrikte.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het in 'n verklaring gesê dat hy geweldig dankbaar is en dat die geld sal help om die impak wat die droogte in die distrikte het, te verlig.
"Projekte wat geïmplementeer sal word sluit voer vir vee in kritieke areas in, voorraad vir besproeiingstelsels, bewaringslandbou, heinings en die uitroei van uitheemse plantegroei in.
"Klimaatsverandering dui daarop dat die Wes-Kaap moontlik nog droër gaan word en dat die reënval meer wisselvallig kan word.
Daarom is dit van kardinale belang dat ons die natuurlike hulpbronne tot ons beskikking effektief bestuur," het hy gesê.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê dat die geld 'n reusebydrae sal lewer tot droogte-ondersteuning in die distrikte.
"Die Sentraal-Karoo is vanjaar in sy sesde jaar van droogte. Projekte om die impak van die droogte te versag is eweneens noodsaaklik en Agri Wes-Kaap het waardering vir die provinsiale departement van landbou se visie om belangrike intervensie-projekte soos bewaringslandbou en die uitwissing van indringerspesies aan te pak."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'