OUDTSHOORN NUUS - NA Smit-swembad is die laaste paar weke met behulp van die plaaslike sportliggaam, Oudtshoorn Sport Inisiatief (OSI), behoorlik opgeknap.
Die werkers van Kleinplaas-vakansieoord het ingestem om al die badkamermure te verf en ook om hand by te sit met die algemene skoonmaak van die swembadperseel.
Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, het namens die munisipaliteit hul dank betuig teenoor OSI en ook aan almal wat bygedra en gehelp het.
Verskeie borgskappe wat deur OSI vir hierdie projek aan boord gebring is, sluit in Kleinplaas-vakansieoord, United Paints and Pools, Build it, Timber City, Eldorado Hotel en Selfsorg.
Hierdie besighede het meer as R50 000 in materiaal en arbeid bygedra.
Swembaddens open amptelik 2 Desember
Die munisipaliteit het in 'n verklaring bevestig dat daar beoog word om al die swembaddens binnekort te heropen. Weens herstelwerk en instandhoudingswerk wat nog by drie van die agt munisipale-swembaddens aan die gang is, word die heropening van die swembaddens egter tot Vrydag 2 Desember uitgestel.
Die interne munisipale-projekspan wat aangewys is om te help met die effektiewe implementering van die swembad-instandhoudingsplan het die afgelope maand tot op datum baie hard gewerk om te verseker dat deeglike werk gedoen word deur behoorlike herstelwerk en instandhouding van die swembadpompe, filters, swembad lekkasies, loodgieterprobleme asook die instandhouding van die chlorineerder en beligtingstelsels sowel as strukturele skade by alle munisipale swembaddens.
Een van die werkers besig om die mure te verf.
Daarna sal die swembaddens met die toepaslike watervlakke gevul word terwyl die aangestelde opsigters gereeld sal kyk of die waterstelsels en ongebruikte toerusting nog operasioneel is, en dat alles reg is vir publieke gebruik en galageleenthede by die munisipale swembaddens.
"Ons het ons swembadbesigheid se operasionele prosesse en stelsels versterk om te verseker dat die munisipaliteit wat die munisipale swembaddens goed onderhou deur swembaddens behoorlik skoon te maak om sodoende die leeftyd daarvan te verleng. Dit kan ook bakterieëgroei verhoed en in die proses lyk die munisipale swembaddens terselfdertyd mooi en ontspannend," lui die verklaring.
Verwante artikels:
- Ondersoek na NA Smit-swembaddebakel
- Freda Barnard-swemgala- daar is hoop vir 2023
- Eden-tweekamp in ODN suksesvol
- NA Smit-swembad reg vir Eden Tweekampbyeenkoms
Sebien Loff wys hoe netjies NA Smit se kleedkamers tans is. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'