OUDTSHOORN SPORTNUUS - Eden-tweekamp het Dinsdag in Oudtshoorn plaasgevind met die eerste been wat om 17:00 by De Jager-sportkompleks weggespring het.
Die tweede been het 18:15 na die NA Smit-swembad oorgeskuif waar skoon en helder water die atlete ingewag het.
Eden-tweekamp
Na 'n ongelooflike spanpoging deur die Oudtshoorn-munisipaliteit en lede van die Oudtshoorn-sportinisiatief (OSI) om die NA Smit-swembad gereed te kry vir die byeenkoms, kon 'n Eden-span van 75 lede gekies word om op Sondag 30 Oktober in Gqeberha (PE) aan die OP Interprovinsiale byeenkoms te gaan deelneem, so sê Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden-tweekamp.
Eden-tweekamp is veral dankbaar vir die helder water wat op die swemers gewag het.
"Ons wil vir Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn, sy munisipale span, Wilma Pienaar, interim voorsitter van die OSI en al die sakemense wat bygedra het, hiervoor bedank. "Dit is weereens 'n bewys van wat kan gebeur wanneer alle partye saamwerk."
Die Eden-span is vanoggend gefinaliseer en elke atleet sal nou deur hul klub of skool in kennis gestel word.
Die topdrie vertonings Dinsdagaand was gelewer deur:
- Estie Loock-Bezuidenhout (2055 punte)
- Petro Fourie (2053 punte)
- Benjamin Bond (2052 punte)
Van der Walt vertel dat daar 'n besige seisoen op Eden-tweekamp in 2023 wag en hy nooi almal uit om die webtuiste www.edenbiathlon.co.za te besoek vir meer inligting.
Callan du Plessis (12), aan die einde van sy item.
Atlete maak gereed om uit die wegspringblokke te spring.
Atlete maak gereed om weg te spring by die DeJager-sportkompleks. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'