OUDTSHOORN NUUS - "As politieke hoof van die dorp aanvaar ek volle verantwoordelikheid vir die situasie by die NA Smit-swembad omdat ons die Freda Barnard-swemgala vanjaar noodgedwonge weens instandhoudingsprobleme moes afstaan aan George."
So het Chris Macpherson, burgemeester van die groter Oudtshoorn-distrik verlede week tydens ' n perskonferensie aan die media gesê. Volgens Macpherson is daar personeel wat definitief nie hul pligte uitgevoer het nie en dat dit hom bekommer.
"As dinge nie plaasgevind het nie en dit was op 'n munisipale werknemer se verantwoordelikheidsvlak, dan gaan ek optree teen so 'n individu. Vandat ek die burgemeesterstoel oorgeneem het was die boodskap duidelik: doen jou werk of staar die gevolge in die gesig. Omgekeerd as jy jou werk doen, sal jy ook die krediet daarvoor kry."
Macpherson het bevestig dat daar 'n ondersoek van stapel gestuur sal word spesifiek met betrekking tot die swembad-debakel met dissiplinêre optredes wat sal volg indien nodig. Een van die positiewe aspekte van die hele scenario volgens Macpherson was die hulpvaardige gesindheid van die breë publiek om die swembad te herstel.
NA Smit-swembad operasionele tye
Goeie nuus is dat daar heel moontlik 'n verhittingstelsel by NA Smit geïnstalleer sal word wat selfs meer byeenkomste sal lok. Die NA Smit-swembad is tans net oop vir swemgalas en soortgelyke geleenthede. Alle swembaddens in die dorp sal egter vanaf die 18 November oop wees.
Herstelwerk aan die Bridgton-swembad, wat R7,47 miljoen beloop, begin Vrydag (môre) waarna konstruksie tydelik gehalt sal word in November totdat werksaamhede weer in Februarie 2023 hervat word. Daar is ook planne in die pyplyn om die Bongolethu-sportstadion drasties te verander teen 'n bedrag van R8,7 miljoen.
Opgradering van De Jager-atletiekbaan
Luidens 'n verklaring van die Oudtshoorn-munisipaliteit is daar nadat konsultante en kundiges die De Jager-atletiekbaan inspekteer het, bevind dat die baan so spoedig moontlik opgegradeer moet word.
"Alhoewel 'n kontrakteur reeds aangestel is, word daar tans met die kontrakteur oorleg gepleeg dat die werk nie onmiddellik kan plaasvind nie aangesien daar reeds verskeie atletiekbyeenkomste vir die terrein bespreek is.
Die munisipale bestuur het indringende samesprekings met die kontrakteur, konsultante en belanghebbendes gevoer om alternatiewe datums te reël waarop die herstelwerk kan begin sonder om die byeenkomste te benadeel.
'n Volledige verklaring in die verband sal teen Donderdag uitgereik word. Die munisipale bestuur is deeglik bewus van die behoefte van skole en atletiekliggame wat aangewese is op die gebruik van die
De Jager-atletiekbaan. Organisasies wat reeds byeenkomste op die baan gereël het word weer dringend gevra om hulle datums met die munisipaliteit te bevestig," lui die verklaring.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'